Deel die gees van gee by die Taalmonument

Om die druk op hom te verlig, het Kersvader besluit om solank vooraf ʼn paar geskenke uit te deel tydens die gewilde, jaarlikse Vader Kersfees Volmaanpiekniek by die Afrikaanse Taalmonument op Vrydag, 13 Desember 2019 – ʼn aand boonop ten bate van ʼn goeie doel.

Dié pieknieks op Paarlberg is baie gewild onder plaaslike inwoners én oorsese besoekers, wat veral die sonsondergang en pragtige naguitsig op die valleie, berge en skiereiland geniet. ’n Gratis begeleide toer wat onder meer die simboliek van die monument, ʼn beeldhouwerk sonder weerga, verklaar, word om 18:30 aangebied. Besoekers word aangemoedig om die omgewing te verken en daar is buitelug-speletjies en speelparke vir die kinders. Kersvader behoort om 19:00 sy opwagting te maak om geskenke uit te deel, dus ouers moet asseblief hul kinders se duidelik gemerkte geskenke vooraf in sy Kerskous in die Besoekersentrum besorg.

Besoekers kan tussen 17:00 en 22:00 piekniek hou, en is welkom om hul eie piekniekmandjies te bring of een vooraf te bestel (R300 vir twee persone, of R400 met ʼn mandjie ingesluit) by die koffiewinkel op 021 863 2800. Dit sal ook oop wees vir koffie en ligte verversings asook pizza. Onthou asseblief warm klere en ʼn flits. Genoegsame, veilige parkering is beskikbaar.

Die piekniekreeks word aangebied ten bate van ‘Laat ons Lees!’, die Taalmonument se geletterdheidsprojek vir kinders, derhalwe word gaste aangemoedig om ʼn nuwe of tweedehandse kinderboek te skenk ter ondersteuning van dié projek.

Toegang is R40 per volwassene, R10 vir SA studente/pensioenarisse en R5 vir kinders (gratis onder ses jaar). Kaartjies is beskikbaar by Computicket of die hek; geen besprekings is nodig nie. Jaarpermitte is by die Taalmonument beskikbaar teen R120 vir individue of R220 per gesin, wat toegang tot alle Volmaanpieknieks insluit.

Vir meer inligting oor al die ander opwindende geleenthede by die Taalmonument (hulle vier volgende jaar 45 jaar), skakel 021 863 0543/4809, besoek www.taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook. Die volgende Volmaanpieknieks vind op 10 Januarie, 8 Februarie en 7 Maart 2020 plaas.

[Let asseblief op dat die Volmaanpiekniek beplan vir 9 November 2019 helaas afgestel is weens onvoorsiene omstandighede.]