Amira te hore by die Amfiteater-konsert met Jill Levenberg en talle talentvolle musiekgroepe

Maak vandag nog ’n nota om Saterdag, 15 Desember 2018, die pad na die Paarl aan te pak, want die Taalmonument en PaarlFM bied ’n eerste, verruklike aand met Bolandse sangsterre, jong musieksensasie Amira Willighagen en aktrise Jill Levenberg aan. Oud en jonk sal die Kersfeesgees opnuut beleef danksy die kore en orkeste se ongelooflike vertolkings van bekende en minder bekende Krismisliedere.

Amira Willighagen het vir die eerste keer haar ongelooflike talent as operasanger geopenbaar deur ‘Holland’s Got Talent 2013’ op die jonge ouderdom van nege te wen. Sedertdien het sy in talle lande – soos die VSA, Duitsland, Hong Kong, Argentinië, Suid-Afrika asook in die Verenigde Koninkryk in die gesogte Royal Albert Hall – opgetree. Sy het gesing met internasionale bekende persoonlikhede soos die Britse tenoor Paul Potts, die Nederlandse violis/dirigent André Rieu en die Italiaanse ster Patrizio Buanne. Amira, wat half Suid-Afrikaans is, woon nou in Suid-Afrika waar sy ‘n liefdadigheidsorganisasie, Gelukskinders, van stapel gestuur het om speelgronde vir minderbevoorregte kinders op te rig.

Levenberg – beroemd danksy haar rol as Antie Maymoena in ‘Suidooster’en tans te sien in die rolprent, ‘Die storie van Ellen Pakkies’ – sal die seremoniemeester en gaskunstenaar wees. Die ander musiekgroepe sluit Probell Woodwind Brass, Ida’s Valley’s Young Souls, Heathfield OAC Band, Eersterivier Silverstreams, Ambassadors, Makupula High, Flave Five en Sinc4 in.

“Die hoofdoel is om die geboorte van Jesus te beklemtoon deur middel van sang en musiek,” sê die Afrikaanse Taalmuseum en -monument se direkteur, Michael Jonas. “Ook sal dit ’n kans aan die deelnemers, onder meer Shining Stars en Boland Youth Orchestra, bied om hande te vat en in groter groepsverbande op te tree. Dit is waarlik ’n voorreg om só ’n geleentheid te kan aanbied, dus ons hoop soveel moontlik mense van ʼn wye agtergrond sal ’n heerlike somersaand in ’n beeldskone omgewing met ons kom deel.” Aangesien die vertoning om 18:00 in die bekende Paarl Amfiteater begin, sal gaste nie net deur die musiek oorrompel word nie, maar ook ‘n pragtige sonsondergang aanskou.

Kaartjies, wat na verwagting snel gaan uitverkoop, is vooraf by Computicket en die Taalmonument beskikbaar teen R100 vir volwassenes en R50 vir kinders van 6 tot 14 jaar. Gratis vir kinders onder 6. Bring ’n kombers of kussing en warm klere saam. Kos, koeldrank en drankies sal te koop wees. Veilige parkering is beskikbaar en toegang word beheer. Helaas word geen eie spys en drank, honde of vure toegelaat nie.

Vir verdere inligting oor hierdie en ander geleenthede (soos die volmaan- en sterrekykpieknieks), skakel 021 863 0543/4809 of besoek www.taalmonument.co.za en www.facebook.com/afrikaansetaalmonument. Meer oor Amira by www.amira-online.com. Die konserte by die Tuinteater hierdie seisoen sluit Dans van die Vlamme (29 Desember), The Rockets (25 Januarie 2019), ADAM, Early B & Irene-Louise van Wyk (16 Februarie), Leah & Karin Kortje (23 Februarie) asook die Taalmonument Koorfees (14 Maart, maar wel by Amfiteater) in.