Konsert lok wéér talle talentvolle musiekgroepe
Danksy verlede jaar se veelbesproke sukses, bied die Taalmonument en Shining Stars vanjaar weer ʼn verruklike aand met Bolandse sangsterre aan, dus maak vandag nog ’n nota om Saterdag, 30 November 2019, die pad na die Paarl aan te pak. Oud en jonk sal die Kersfeesgees opnuut beleef danksy die kore en orkeste se ongelooflike vertolkings van bekende en minder bekende Kersfeesliedere.

Die beroemde Paarlse talent, Marco Mentoor, en sy orkes is vanjaar ook vir die eerste keer op hierdie verhoog om onder meer die ander groepe van agtergrondmusiek te voorsien. Mentoor – ʼn pianis, komponis en vervaardiger – het al met onder andere Jonathan Butler, Donnie McClurkin, Dr Victor & the Rasta Rebels, Elvis Blue en Jimmy Dludlu opgetree. Hy is veral bekend om sy ongelooflike gospelmusiek, wat beteken dat die ander musiekgroepe – Shining Stars, Wynland Kamerkoor, Paarl Vallei Eisteddfod, Idas Valley String Band, Paul Roos Seunskoor en Sinc4 – besoekers selfs met meer hemelse klanke sal imponeer. Boonop sal al die kore ook saam optree om twee items aan te bied.

“Die hoofdoel is om die geboorte van Jesus deur middel van sang en musiek te beklemtoon,” sê die Afrikaanse Taalmuseum en -monument se direkteur, Michael Jonas. “Ook sal dit ’n kans aan die deelnemers bied om hande te vat en in groter groepsverbande op te tree. Dit is waarlik ’n voorreg om só ’n geleentheid te kan aanbied, dus ons hoop soveel moontlik mense van ʼn wye agtergrond sal ’n heerlike somersaand in ’n beeldskone omgewing met ons kom deel.” Aangesien die vertoning om 19:00 in die Tuinteater begin, sal gaste nie net deur die musiek oorrompel word nie, maar ook ‘n pragtige sonsondergang aanskou. Hekke sal vanaf 17:00 oop wees.

Kaartjies, wat na verwagting snel gaan uitverkoop, is vooraf by Computicket en die deelnemende groepe self beskikbaar teen R100 vir volwassenes en R50 vir kinders van 3 tot 13 jaar. Gratis vir kinders onder 3. Besoekers kan hul eie pieknieks bring of een vooraf bestel op 021 863 2800/072 705 3590. Onthou ’n kombers of kussing en warm klere. Veilige parkering is beskikbaar en toegang word beheer. Helaas word geen honde of vure toegelaat nie.

Vir verdere inligting oor hierdie en ander opwindende geleenthede (soos die volmaan- en sterrekykpieknieks), skakel 021 863 0543/4809 of besoek www.taalmonument.co.za en www.facebook.com/afrikaansetaalmonument. Die konserte hierdie seisoen sluit Dans van die Vlamme (28 Desember), The Rockets (24 Januarie 2020), die groot 45ste verjaardagfees (28/29 Februarie) asook die Taalmonument Koorfees (15 Maart) in.