Taalkontak 1488-1658, Europa ontmoet Suider-Afrika

Afrikaans is een van die jongste amptelike tale in die wêreld en die wortels van die taal is versprei oor drie kontinente – Wes-Europa, Suidoos-Asië en Afrika. In 1925 het Afrikaans naas Engels die amptelike landstaal van die Unie van Suid-Afrika geword. Terwyl die taal reeds teen die einde van die 1700’s algemeen gepraat is in die destydse Kaapkolonie, het die stryd om erkenning as ʼn skryf- en kultuurtaal eers ʼn eeu later in erns begin (Deel 1 Die Storie van Afrikaans uit Europa en van Afrika, WAW Carstens en EH Reid, Protea Boekehuis Pretoria 2017:430).

Die taalverhaal begin met die Europese soeke na ʼn roete na die rykdom van die Ooste. Sedert die vroegste tye in die geskrewe geskiedenis het die mense van die Middellandse See ontdekkingsreise langs die kus van Afrika onderneem. Die dryfveer was handel, en die groot deurvoermark vir handelsware wat deur die woestyn met kameelkaravane gebring is, was die hawe van Ceuta in Marokko. (Nuwe Geskiedenis van Suid-Afrika, Redakteurs T Cameron & SB Spies, Human Rousseau, Die eeu van ontdekkingsreise, M. Boucher, 1986:55). In 1415 het die Portugese Ceuta in Noord-Afrika verower en só ʼn standplaas gekry waarvandaan hulle die weskus van Afrika kon verken. Die rede hiervoor was aanvanklik die goud, ivoor, amber, indigo, Malagueta-peper en slawe (teen 1448 was daar reeds byna ʼn 1 000 slawe na Portugal geneem) wat hierdie roete gebied het, en dan ook die seeroete na die Ooste waar Chinese en Persiese sy, Indiese katoenstowwe, edelstene en speserye bekom kon word. Laasgenoemde was nie net om kos te geur nie, maar ook vir geneesmiddels, skoonheidsmiddels, salwe en kleurstowwe. (Armosyn van die Kaap: Voorspel tot vestiging 1415-1651, Human en Rossouw Kaapstad 1999:11: 25). 

Die Portugees Diogo Cao het glo teen 1485/6 suidelike Afrika bereik, maar daar bestaan nie meer ʼn eerstehandse weergawe van die reis nie. Teen 1488 het Bartolomeu Dias de Novaes hierdie verkenningstogte voortgesit en hoewel hy om die suidpunt van Afrika geseil het, het hy nie die roete na die Ooste voltooi nie.

Bartolomeu Dias de Novaes was die opsigter van die koninklike Guinee-pakhuise in Lissabon, en die bevel oor die karveel Sao Cristovao is in 1486 deur koning Joao II aan hom gegee. Met nog ’n karveel, die Sao Pantateao, en ’n vragskip het sy ekspedisie in 1487 die Taagrivier in Portugal verlaat met die koninklike opdrag om ’n seeweg en gevolglik ʼn handelsroete na die Ooste te vind. Teen Desember 1488, ná 16 maande en 17 dae, het hy en sy bemanning teruggekeer sonder om die roete na die Ooste te gevind het.

Die eerste geskrewe rekord van kontak tussen die inwoners van Suid-Afrika en Europeërs (Portugese) was die van die dagboekskrywer Joâo de Barros. Hy het Bartolomeu Dias de Novaes se poging om die seeroete na die Ooste (1487-1488) te vind, opgeteken. In Januarie 1488 het Dias ʼn aantal Khoekhoenherders met baie vee gewaar en die plek Bahia dos vaqueros genoem – die plek van die veewagters. Die herders het verskrik met hul vee gevlug toe hulle die vreemde mense gewaar het (Khoikhoi and the founding of White South Africa, Ravan Press Johannesburg, R. Elphick 1985:72). Een van die baaie waar hulle voor anker gelê het, is Aguada de Sao Bras genoem. Vandag staan dit bekend as Mosselbaai. (Nuwe Geskiedenis van Suid-Afrika, Redakteurs T Cameron & SB Spies Human Rousseau, Die eeu van ontdekkingsreise, M. Boucher 1986:55). Hierdie “waterhaalplek van Sint Blasius” was vir meer as ʼn eeu die enigste hawe van belang vir die Portugese. (500 Jaar Suid-Afrikaanse geskiedenis, CFJ Muller, Academica Kaapstad en Pretoria 1984: 2-6), Armosyn van die Kaap: Voorspel tot vestiging 1415-1651, Human en Rossouw Kaapstad 1999:11: 12-13). 

Nege jaar later het Vasco da Gama die oop see aangedurf met drie klein skepe en ʼn bemanning van 170 wat soldate sowel as matrose ingesluit het. (Nuwe Geskiedenis van Suid-Afrika, H Giliomee en B Mbenga, Tafelberg uitgewers 2007: 41). Hy is deur die Portugese koning aangestel as bevelvoerder oor die skepe wat Indië om die Kaap moes bereik. Die vloot het in 1497 anker gegooi by ‘n baai aan die Kaapse Weskus wat hulle na die heilige Santa Ellena (Sint Helena) vernoem het. Oor ʼn tydperk van agt dae het hulle veeherders hier aangetref; geskrifte wat nagelaat is, beskryf die herders as klein van postuur en dat hulle spiese en baie honde gehad het! Hul kos was plante en die vlees van wildsbokke, robbe en walvisse. Die Portugese bemanning het ʼn man “gevang” (lees, ontvoer) waar hy besig was om heuning te versamel waarna hy aan boord van ʼn skip geneem is. Hy is die volgende dag vrygelaat en die bemanning het aan ʼn groep mense wat hom ingewag het, klein klokkies en ringe gegee. Een van die bemanningslede is later naby die skip aangeval, moontlik omdat die herders bedreig gevoel het, waarna Da Gama gewond is tydens ‘n skermutseling.

Da Gama het in Mosselbaai in 1497 ongeveer 90 Khoekhoenherders aangetref waarna bemanningslede met klein bootjies aan wal gegaan het. Da Gama het klein klokkies en rooi hoedjies aan die Khoekhoen gegee, wat op hul beurt ivoorarmbande aan die Portugese gegee het. Die aanvanklike ontmoeting was vriendskaplik. Op 2 November 1497 het Khoekhoenherders met 12 beeste en ʼn paar skape opgedaag. Die Portugese beskryf die beeste en skape as vet en dat die beeste baie mak was. Die bemanning het ná ʼn paar dae begin om water in te skep waarop die Khoekhoen hulle vee weggeneem het en gevra het waarom die bemanning hul water vat. Die bemanning het twee klein kanonne afgevuur waarna die Khoekhoen gevlug het. (Lantern Tydskrif vir Kennis en Kultuur, JAN 1983 JAARGANG 37 Nr 1; 43).

Soos wat Da Gama verder gevaar het, het hy name gegee aan plekke langs die kus – so is daar op Kersdag 1497 die naam Terra do Natal aan die Keirivierkus gegee. (Vandag is die gebied bekend as KwaZulu-Natal). Vandaar het hy langs die ooskus van Afrika gevaar en oor die Indiese Oseaan geseil waarna hy in Mei 1498 die Malabarkus bereik en aan wal gegaan het in Kalikoet (nou in Indië) op 8 Mei 1498. (Bron: 500 Jaar Suid-Afrikaanse geskiedenis, CFJ Muller, Academica Kaapstad en Pretoria 1984:9-11) Vanaf die 1500’s het vlote jaarliks om die Kaap geseil op pad na die Ooste. Die Portugese handelsvlote oftewel Armadas da India, is vlote wat aanvanklik deur die Koningshuis van Portugal befonds en jaarliks uitgestuur is op die sogenaamde Carreira da India (Indië-tog). 

Min Portugese kaarte uit hierdie periode bestaan nog, maar die kaarte van Martellus (circa 1489), Cosa (circa 1502) en Cantino (circa 1505) gee ʼn blik op wat aan die seevaarders bekend was vroeg in die 1500’s. Daar is ook beskrywings van die kuslyn van suidelike Afrika, sketse van die inheemse bewoners asook vertellings van skipbreukelinge. (Portuguese contributions to the history of South Africa and Rhodesia, A Axelson, South African Journal of Science May 1969: 139). 

Skepe onder bevel van Antonio de Saldanha het in die lente van 1503 in ʼn baai (dit is Aguada de Saldanha genoem) anker gegooi om varswater in te skep. Die Portugese het probeer om handel te dryf met die Khoekhoen; hulle het spieëls, glaskrale en ʼn ratel aangebied in ruil vir twee skape en ʼn koei. Daar was moontlik ʼn misverstand waarna die Khoekhoen die vee terug gevat het en De Saldanha in ʼn skermutseling gewond is. Vir ʼn eeu is die baai Aguada de Saldanha genoem – die naam Tafelbaai is eers in 1601 daaraan gegee. (Bron: 500 Jaar Suid-Afrikaanse geskiedenis, CFJ Muller, Academica Kaapstad en Pretoria 1984:9-11).

Die Portugese edelman Dom Fransico d’Almeida het op pad terug van Indië na Portugal in 1510 in Tafelbaai aangekom om varswater te haal en ruilhandel te bedryf om vleis te bekom. Daar was ʼn voorval tussen die Khoekhoen en die Portugese waarna laasgenoemde ʼn strafekspedisie na die Khoekhoen se krale geloods het en van die Khoekhoenkinders ontvoer het. Die Khoekhoen het egter van agter die verskansing van hul afgerigte beeste en met hul assegaaie wraak geneem en ongeveer 57 Portugese, insluitend d’Almeida, het gesterf. Aangesien die Portugese reeds in 1507 ʼn verversingspos in Mosambiek gevestig het en weens bovermelde gebeure sou die Portugese die Kaap hierna vermy en eerder aandoen by Mosambiek en St Helena (Khoikhoi and the founding of White South Africa, Ravan Press Johannesburg, R. Elphick 1985:73, Armosyn van die Kaap: Voorspel tot vestiging 1415-1651, Human en Rossouw Kaapstad 1999:11: 16). 

Die Portugese se koloniale uitbreiding het in die periode 1521-1557 ʼn hoogtepunt bereik waarna dit begin verbrokkel het. Die Spaanse oorheersing van Portugal (1580-1640) het die afbreek van die Portugese Ryk versnel en die handelsbelange in die Ooste sou mettertyd deur die Nederlanders en Engelse oorgeneem word. Nederland het die eilande van die Molucas (1605), Pernambuco (1630-1637), Ceylon (1638), Malaca, Maranhao en Luanda (1614) asook die kus van Malabar (1661-1663) verower. Hierdie verowerings het ʼn invloed op die ontwikkeling van Afrikaans gehad deurdat die Maleis-Portugees wat gepraat is toe via die slawehandel na die Kaap gebring is.

Die taalinvloed van die Portugese in die 1400’s en 1500’s op Suid-Afrika was gefokus op naamgewing van die kuslyn, riviere en bergreekse sowel as seevoëls en visse. Ons kan vandag nog hul spoor volg deur na die name op ʼn kaart van die kuslyn van suidelike Afrika te kyk; boonop is daar talle Portugese skeepswrakke langs die kus. Later sou die Portugese woordeskat uitgebrei word in Afrikaans danksy die Maleis-Portugese invloed van die slawe in die Kaapse samelewing ná 1658.

Voorbeelde van Portugese name en woorde:

Angra – baai

Cabo – kaap

Golfo – baai

Ilha – eiland

Lago – meer

Lagoa – meer

Monte – heuwel of berg

Porto – hawe

Rio – rivier

Serra – reeks

Terra – land

Paternoster – Onse vader

Golfo de Santa Helena – St Helenabaai

Rio de Santiago – Bergrivier

Porto Fragoso – verwys na die kranse by Houtbaai

Cabo de Esperanza, Boa Esperanza – Kaap die Goeie Hoop

Golfo Coberto – St Sebastiaanbaai

Golfo das Agulhas – Kaap Agulhas

Rio de Nazare – Breërivier

Cabo das Vacas – Kanonpunt, vandag by Vleesbaai

Golfo de Sao Bras – St Blasiusbaai, vandag Mosselbaai