Taalmonument se Volmaanpiekniek eer suiwel in November

Met nóg ʼn jaar wat einde se kant toe staan, is dit die perfekte tyd om asem te skep en die volmaan van nader te aanskou op ʼn heerlike somersaand op die pragtige Paarlberg. Daarom nooi die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) se vriendelike personeel almal hartlik uit om hierdie natuurlike verskynsel op Vrydag, 24 November 2023, met hulle te beleef.

Die pieknieks is baie gewild onder plaaslike inwoners en toeriste, wat veral die sonsondergang, pragtige tuine en onvergelykbare uitsig op die berge, valleie en skiereiland geniet. Gaste kan enige tyd tussen 17:00 en 22:00 kom piekniek hou en die monument – ʼn sonderlinge, simboolgelaaide beeldhouwerk – besigtig. ʼn Gratis begeleide toer om dit alles te verduidelik, vind om 18:30 plaas. Besoekers word ook aangemoedig om die omgewing en tydelike uitstallings te verken; daar is buitelug-speletjies en speelparke vir die kinders. Genoeg veilige parkering is gratis beskikbaar.

Ter ondersteuning van die Sentrum vir Astronomiese Erfenis se projek om inheemse name vir volmane in Suider-Afrika te bevorder, word hierdie piekniek aan die Melkmaan gewy – dit verwys na die feit dat suiwel nog altyd ʼn belangrike bron van proteïene vir onder meer die Khoekhoen was. Dit is vars en gefermenteer aan besoekers aangebied, en in die voorbereiding van kos asook die maak van botter gebruik. 

Gaste is welkom om hul eie pieknieks en drankies (geen glas) te bring of vooraf ʼn piekniekmandjie by die Suikerkan via 082 216 2510 of info@diesuikerkan.co.za te bestel – hierdie bistro sal ook verversings tydens die geleentheid verkoop. Onthou warm klere en ʼn flits. Die piekniekreeks word aangebied ten bate van ‘Laat ons Lees!’, die ATM se geletterdheidsprojek vir kinders, derhalwe word piekniekgangers gevra om nuwe of tweedehandse kinderboeke ter ondersteuning te skenk.

Toegang is R40 per volwassene, R10 vir SA studente, pensioenarisse en kinders, en GRATIS vir kinders onder 6 jaar asook jaarpermithouers. Kaartjies is beskikbaar by Computicket of die hek, en geen besprekings is nodig nie. Meer oor die Sentrum vir Astronomiese Erfenis by cfah.org.za/fullmoon. Die volgende Volmaanpieknieks is op 26 Januarie, 23 Februarie en 22 Maart in 2024.

  • Vir meer inligting oor al die ander opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument en Taalmuseum, skakel 021 872 3441/863 0543, besoek taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook. Die webtuiste bied boonop virtuele toere van die monument en museum, inligting in ses tale oor die simboliek van die Taalmonument asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms. Daar is voorts heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte. Jaarpermitte kos slegs R120 vir individue of R220 per gesin, wat toegang tot alle Volmaanpieknieks insluit. Die koffiewinkel bied daagliks heerlike kos en pragtige vergesigte, kontak hulle via diesuikerkan.co.za of 082 216 2510.