Gewilde volmaanpieknieks wink weereens

Soms is alles net maanskyn en rose, veral as jy die volmaan van nader bekyk op ‘n heerlike lenteaand op die beeldskone Paarlberg. Daarom nooi die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) se vriendelike personeel almal hartlik uit om saam met ons die eerste Volmaanpiekniek van die somerseisoen te vier op Saterdag, 12 Oktober 2019.

Dié pieknieks is baie gewild onder plaaslike inwoners én oorsese besoekers, wat veral die sonsondergang en pragtige naguitsig van die vallei geniet. Besoekers kan enige tyd tussen 17:00 en 22:00 kom piekniek hou. ’n Gratis begeleide toer wat onder meer die simboliek van die monument, ‘n beeldhouwerk sonder weerga, verklaar, word om 18:30 aangebied. Besoekers word aangemoedig om die omgewing te verken en daar is buitelug-speletjies en speelparke vir die kinders.

Gaste is welkom om hul eie piekniekmandjies te bring of een vooraf te bestel (R300 vir twee persone, of R400 met ‘n mandjie ingesluit) by die koffiewinkel op 021 863 2800. Die koffiewinkel sal oop wees vir koffie en ligte verversings asook pizza. Onthou ook asseblief warm klere en ‘n flits.

Die piekniekreeks word aangebied ten bate van ‘Laat ons Lees!’, die Taalmuseum se voorleesprojek vir kinders. Piekniekgangers word versoek om ʼn nuwe of tweedehandse kinderboek saam te bring en te skenk ter ondersteuning van dié projek.

Toegang is R40 per volwassene, R10 vir SA studente en pensionarisse en R5 vir kinders (gratis onder ses jaar). Kaartjies is beskikbaar by Computicket of die hek, en geen besprekings is nodig nie. Jaarpermitte is by die Taalmonument beskikbaar teen R120 vir individue of R220 per gesin, wat toegang tot Volmaanpieknieks insluit. Vir meer inligting oor ander opwindende geleenthede by die Taalmonument, skakel 021 863 0543/4809, besoek www.taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook. Die volgende Volmaanpieknieks vind op 9 November, 13 Desember (met Vader Kersfees!), 10 Januarie 2020, 8 Februarie en 7 Maart plaas.