Die maan is waarlik belowe by die Taalmonument
Nóg ʼn volmaanpiekniek op die horison; gratis vir onder-18’s

Vergeet ʼn bietjie van die jaar en bekyk die volmaan van nader op ʼn heerlike somersaand op die beeldskone Paarlberg waar die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) se vriendelike personeel almal hartlik uitnooi om vanjaar se laaste Volmaanpiekniek op Vrydag, 27 November 2020, met hulle te vier.

Dié pieknieks is baie gewild onder plaaslike inwoners én toeriste, wat veral die sonsondergang en pragtige naguitsig van die vallei geniet. Besoekers kan enige tyd tussen 17:00 en 22:00 kom piekniek hou en die monument, ʼn simboolgelaaide beeldhouwerk sonder weerga, besigtig. Besoekers word ook aangemoedig om die omgewing te verken en daar is buitelug-speletjies en speelparke vir die kinders.

Gaste is welkom om hul eie piekniekmandjies (geen glas) te bring of een vooraf by die Oppi Berg Mobile Café op 060 382 9938 (R250 per paartjie, R450 per gesin van vier) te bestel – hulle sal ook spys en drank op die aand verskaf. Onthou ook warm klere en ʼn flits, asook ʼn masker. Sien www.taalmuseum.co.za/covid-19/ vir die spesifieke protokolle.

Toegang is R40 per volwassene, R10 vir SA studente en pensionarisse en gratis vir almal onder 18 jaar. Kaartjies is beskikbaar by Computicket of die hek, en geen besprekings is nodig nie. Jaarpermitte is beskikbaar teen R120 vir individue of R220 per gesin (tans aangebied teen ʼn 20%-afslag), wat toegang tot alle Volmaanpieknieks insluit. Die piekniekreeks word aangebied ten bate van ‘Laat ons Lees!’, die Taalmuseum se geletterdheidsprojek vir kinders, en besoekers word versoek om ʼn nuwe of tweedehandse kinderboek te skenk.

Vir meer inligting oor al die ander opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument (en hul 45ste verjaarsdagvieringe in 2020), skakel 021 872 3441/863 0543, besoek www.taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook. Die volgende Volmaanpieknieks is op 30 Januarie, 26 Februarie en 27 Maart 2021.