Seisoen se laaste volmaanpiekniek wink

Soms is alles net maanskyn en rose, veral as jy die volmaan van nader bekyk op ʼn heerlike somersaand op die beeldskone Paarlberg. Daarom nooi die Afrikaanse Taalmuseum en -monument se vriendelike personeel almal hartlik uit om die laaste Volmaanpiekniek op Saterdag, 7 Maart 2020, te vier.

Dié pieknieks is baie gewild onder plaaslike inwoners én oorsese besoekers, wat veral die sonsondergang en pragtige naguitsig van die vallei geniet. Besoekers kan enige tyd tussen 17:00 en 22:00 kom piekniek hou. ’n Gratis begeleide toer wat onder meer die simboliek van die monument, ʼn beeldhouwerk sonder weerga, verklaar, word om 18:30 aangebied. Besoekers word ook aangemoedig om die omgewing te verken en daar is buitelug-speletjies en speelparke vir die kinders.

Gaste is welkom om hul eie piekniekmandjies te bring of een vooraf te bestel (R300 vir twee persone, of R400 met ʼn mandjie ingesluit) by die koffiewinkel op 021 863 2800. Dit sal oop wees vir koffie en ligte verversings asook pizza. Onthou ook warm klere en ʼn flits.

Toegang is R40 per volwassene, R10 vir SA studente en pensionarisse en R5 vir kinders (gratis onder ses jaar). Kaartjies is beskikbaar by Computicket of die hek, en geen besprekings is nodig nie. Jaarpermitte is beskikbaar teen R120 vir individue of R220 per gesin, wat toegang tot alle Volmaanpieknieks insluit. Die piekniekreeks word aangebied ten bate van ‘Laat ons Lees!’, die Taalmuseum se geletterdheidsprojek vir kinders, en besoekers word versoek om ʼn nuwe of tweedehandse kinderboek te skenk.

Vir meer inligting oor al die ander opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument (en hul 45ste verjaarsdagvieringe in 2020), skakel 021 872 3441/863 0543, besoek www.taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook. Die volgende Volmaanpieknieks begin einde 2020.