Bron: Afrikaanse Taalmuseum se argief (X01043)

Soms as ʼn mens deur ʼn ou Bybel blaai vind ʼn mens interessante goed wat daarin gesit is vir veilige bewaring. Met die herstel van historiese Bybels in besit van die Afrikaanse Taalmuseum het dit aan die lig gekom dat een daarvan die eiendom van mnr Stephanus Gabriel (SG) du Toit was. Sy voorletters en van sowel as sy adres word vermeld as “St Matin, Achter Paarl, 1908” en is in pragtige handskrif voor in die Bybel aangebring. Later in sy lewe het hy in Rosestraat in die Paarl gewoon.

Met die deurblaai van die Bybel is verskeie stokou Christelike blaadjies, artikels en foto’s van predikante gevind, onder meer komende van publikasies soos De Koningsbode (September 1919), De Kerkbode (Junie 1921), Die Gereformeerde Vaandel (Maart 1937) en De Goede Hoop (September 1919).

ʼn Klein dubbelkantige gedrukte pamflet, met die adres as Bijbel Huis Groente Plein Kaapstad, wys daarop dat die Woord nog in baie lande en tale verkondig moet word en dat daar van “…iedere gelovige ʼn bijdrage verwachten” word. Die bedrag kan aan die Sekretaris gestuur word, lui die instruksie.

Dan is daar die sertifikaat (Certificate of Exemption from the Matriculation Examination) aan ene Gideon Jakobus de Vos, uitgereik deur die Matriculation Board of the Universities of South Africa nommer 2044 gedateer 1927. Dit blyk die skolier het matriek in Desember 1926 met Engels, Afrikaans, Latyn, Fisiese Wetenskap, Chemie en Wiskunde geslaag,

ʼn Fraai verjaardagkaartjie met ‘All Good Wishes’ en ʼn prent van ʼn Gesiggie-blommetjie het ook sy pad na die Bybel gevind.

ʼn Paar briewe op baie dun skryfpapier is veilig in die Bybel gehou. Een so ʼn brief, van 13 Augustus 1917, is gerig aan ‘Vader en Moedertjie’, en is afkomstig van die plaas Vondeling by Fraserburg. Die skrywer gesels oor konfytkook asook die skape wat hul lammers weggooi omdat die ooie te min melk het. Verder vertel sy meer oor die dokter wat homself raakgesteek het met ʼn naald tydens ʼn operasie en toe bloedvergiftiging gekry het, waarna sy vinger afgesit moes word. Uiteindelik word daar groete aan vriende en familie gestuur.

Die laaste brief is van ʼn mev Louw van Clanwilliam, gedateer September 1925, wat aan SG du Toit – sy verwys na hom as Fanie du Toit – gerig is. Sy vermeld dat sy in die Paarl skoolgegaan het en dat sy toe al met die sogenaamde kouewaterkuur kennis gemaak het. Sy versoek dat hy vir haar ʼn paar wenke gee, want sy ly aan “…swak senuwees en oortollige vetheid”; sy noem ook dat sy graag sy boek oor die kouewaterkuur wil aanskaf.

Die brief sluit aan by ons kennis oor Hidropatie wat in die 1800’s in Europa en aan die Kaap gewild was. Die woord ‘hidropatie’ beteken watergeneeskunde, waterbehandeling of waterkuur en is ʼn volksgeneeskunde-praktyk. Dit is aanvanklik gewild gemaak deur ʼn Oostenrykse boer Vincenz Priessnitz – hy het die gesondheidsvoordele van die water op sy plaas besing en selfs ʼn sanatorium daar opgerig.  Die bekende dominee GWA van der Lingen van die Paarl het in die 1840’s ʼn kis boeke bestel uit Europa, waaronder die boek van Priessnitz. Omdat dit daaruit duidelik is dat ʼn koue stort of bad net die regte ding vir die gesondheid is, het Van der Lingen vir hom ʼn bergstroom teen Paarlberg gaan soek waar hy sy gestel gaan versterk het.

Daar was ook ʼn befaamde Paarlse waterdokter, ene James Blake. Hy was ʼn meulenaar van beroep en was baie geïnteresseerd in die kouewaterkuur. Hy het van oraloor navrae ontvang, pasiënte by sy huis behandel en ʼn boekie gepubliseer, getiteld De Watergeneeskunde, Beknopte Handleidingvoor het Afrikaansche Vol – Bewerkt uit oude en nieuwe Geschriften door die overtuigd is van de Waarheid. Dit het 63 bladsye beslaan en is in 1882 deur DF du Toit & Co uitgegee. CP Hoogenhout het die vertaling uit Engels na Nederlands gedoen

Die boekie verduidelik die ontstaan en ontwikkeling van die waterkuur tot en met Priessnitz se bydrae. Dieet en lewenstyl word ook aangespreek. “Vermy alle verhittende spijse” soos peper, naeltjies, rissies en mosterd word onder meer aanbeveel. Brandewyn, jenewer, tabak en snuif is ook skadelik. Sopies en “zwaren wijnen” moet met water of varsgekookte melk vervang word. Sy raad aan vrouens was om die tee en koffie te los en liewer vars water te drink, dan het hulle nie nodig om hul middellyfies in te bind en op te ryg met korsette en borstrokke nie! Vetterige kos en te veel vleis doen net kwaad. Die heel beste voedsel is growwe brood, meelkos, vrugte en groente. Water en nogmaals water is belangrik. Verder beveel hy aan dat mense genoeg vars lug kry en beklemtoon hy dat mense hul huise moet deurlug. Hy beskryf ook verskillende tipes baddens – swembad, volbad, halfbad, sitbad, stort en straalbaddens. Sweetprosesse is ook belangrik en die proses werk só: die pasiënt word soos ʼn mummie in koue, klam lakens toegedraai en dan met ʼn warm wolkombers toegemaak; slegs die mond, oë en neus bly oop. Die pasiënt ontvang dan vier keer water per pypie. Sodra die pasiënt ophou sweet, klim hy in ʼn koue bad waarna die kop ʼn paar maal onder die water gedruk word. Hierdie fase van die behandeling moet ongeveer 11 minute duur, waarna die pasiënt met “ruwe doeken” afgedroog is en dan ʼn flinke wandeling moes neem! Blake het ʼn 115 tal aandoenings gelys waarvoor sy behandeling goed was, byvoorbeeld jig, hondsdolheid, brandwonde, doofheid, “drinken”, hipokonders, masels, nagmerries (“dit gedrocht is bang voor koue water”), razernij (kranksinnigheid), tabakgebruik, tandpyn, watersug, swangerskap…” Die Afrikaanse Taalmuseum besit ʼn kopie van hierdie boekie.

Terug na SG du Toit, ook bekend as ‘Fanie Waterdokter’. Hy het op St Martin in Eselskloof in die Agter-Paarl geboer en is in 1925 oorlede. As jong man het Fanie las van rumatiek gehad en teen 1870 het hy die waterkuurbehandeling van James Blake ondergaan. Hy is “door de zwaarste pijnen gefolterd” en moes 27 dae in die bed bly, maar ná drie behandelings deur Blake het hy herstel. Hy het later self die kuur toegepas en wyd bekend geword sodat siekes van selfs so ver as Beaufort Wes, De Aar en Victoria-Wes hom geraadpleeg het. Hy het die waterkuur tussen 1870 en 1910 beoefen en sy behandeling het aangesluit by die van James Blake. Fanie het self ook ʼn boekie geskryf oor die waterkuur – getiteld Krankenheil of Geheimen der Waterbehandeling – wat in 1917 deur Citadel Press gedruk is. In sy slotwoord skryf SG du Toit, die natuurgeneser, die bede dat “gij uit de natuur datgenbe nemen dat strekken tot uwe gezondheid en van u kroost na u”.

Bronne:

Die Waterkuur en Waterdokters van die Paarl, Tydskrif vir Volkskunde en Volkstaal 40(3), September 1984
Argivale bronne in die Afrikaanse Taalmuseum se argief