Dans van die Vlamme Taalmonument Des 2015

Dans van die Vlamme by die Taalmonument

Die Psychedelic Theatre is op Maandag 28 Desember 2015 weer terug op die Tuinteater-verhoog vir hul negende “Dans van die Vlamme”-vertoning by die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl.

Marvin Lee-Beukes, akteur en stigterslid van die Psychedelic Theatre, sê dat vanjaar se vertoning elemente van vuurdans, poppespel, dans, mimiek én fisieke teater insluit.

“Die vertoning, getiteld Sintuie, bied ‘n unieke teaterervaring wat die kuns van vuurdans, poppespel en fisieke teater kombineer. Dit vertel die storie van ‘n gefrustreerde uitvinder wat sukkel om sy eie idees te formuleer. Hy vind inspirasie in die kragtige element van vuur en span sy sintuie in om weer kreatief te kan skep. Hy het ‘n wonderlike idee, maar sal dit die hitte kan weerstaan?” sê Beukes.

Craig Leo is die skrywer en regisseur en Jackie Manyaapelo die choreograaf. Die kunstenaars is Richard Antrobus, Marvin-Lee Beukes, Anton van der Vyver, Claire van der Vyver, Toni Thord-Gray en Lanel van der Kolff. Lodewyk Ludik doen die klank en beligting.

Die piekniek begin om 18:00. Die vertoning begin om 20:30. Daar is ‘n voorvertoning met Katja Hopkins en Lanel van der Kolff. Vir die kinders is daar ‘n speelparkie en ‘n stalletjie met hoela-hoepels, poi en ander interessante vuurdanstoebehore. Besoekers is welkom om hul eie piekniekmandjie saam te bring of een by Volksmond Koffiewinkel te bestel (tel. 021 863 2800). Koffie, ligte verversings, wyn en bier sal te koop wees.

Die vertoning word aangebied ten bate van die Taalmuseum se Laat ons Lees-projek. Kaartjies kos R130 vir volwassenes, R80 vir studente, en R40 vir kinders onder 13 jaar. Kaartjies is by Computicket, by die Taalmonument en ook op die aand by die hek te koop. Vir ’n spesiale afslag vir blokbesprekings van 10 persone of meer, stuur ’n e-pos na kommunikasie@taalmonument.co.za.

Bring ’n kombers of kussing en warm klere saam. Veilige parkering is beskikbaar en toegang word beheer. Geen honde word toegelaat nie. In die geval van slegte weer, skuif die vertoning na 29 Desember. Vir verdere inligting, skakel 021 863 4809/0543