Vuurwarm pret gaan gaste weereens vermaak en verbyster

ʼn Nag van vlamme, vuur en natuur is die lig aan die einde van die jaartonnel wanneer die Psychedelic Theatre op Saterdag 29 Desember 2018 by die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl optree. Voeg daarby heerlike somerweer en lekker pieknieks op die sagte gras van die Tuinteater, dan is dit heeltemal te verstane waarom die ‘Dans van die Vlamme’-vertoning, hul elfde by die monument, ʼn hoogtepunt op die kalender is.

Die uurlange, supergewilde vertoning sluit in musiek, vuurdansers wat vlamme eet en uitblaas, en onder meer met brandende hoelahoepels, palmkerse en vuurslange dans. Soos gewoonlik gaan hulle weer die gehoor na hul asem laat snak met nuwe danse en asemrowende toertjies.

Lanél van der Kolf, akteur en stigterslid van die Psychedelic Theatre, sê dat hul daarna uitsien om plaaslike inwoners, toeriste én vakansiegangers by die Taalmonument te ontvang vir ʼn onvergeetlike aand van pragtige uitsigte, ʼn ongelooflike sonsondergang, piekniek én ʼn vuurdansbelewenis. Die Psychedelic Theatre bied vertonings aan wat die stoutse verwagtinge oortref deur dit ver verby alledaagse menslike ervaringe te waag. Sensoriese stimuli word omgeswaai, binnestebuite gedraai en uitgespat oor wat ‘n verleidelike opvoeringsdoek word. Visuele uitstallings wissel van vuur, fisieke teater, mimiek en dans tot interaktiewe en ligvertonings, op die maat van oorspronklike musiek. Kry solank ’n voorsmakie deur na hul vorige optredes by die monument te kyk by https://www.facebook.com/afrikaansetaalmonument/videos/2104223876308787/

Die hekke open om 17:00 en die vertoning self begin om 20:00 sodra die son groet. Besoekers is welkom om hul eie drankies (geen glas) en piekniekmandjies saam te bring of een vooraf by Volksmond Koffiewinkel (R300 vir twee persone of R400 met ’n mandjie ingesluit) te bestel op 021 863 2800. Volksmond sal oop wees vir koffie en ligte verversings asook pizza. Kaartjies is vooraf te koop by Computicket en by die Taalmonument teen R100 vir volwassenes en R50 vir kinders onder 13 jaar. Geen rook en stoele word in die Tuinteater toegelaat nie. Bring ’n kombers of kussing en warm klere saam. Besoekers word aangemoedig om die omgewing te verken en het ook toegang tot veilige parkering, buitelug-speletjies, kinderspeelparke asook ’n buitelug gedigte-uitstalling.

Vir verdere inligting oor hierdie en ander geleenthede (soos die volmaan- en sterrekykpieknieks), skakel 021 863 0543/4809 of besoek www.taalmonument.co.za en www.facebook.com/afrikaansetaalmonument. Die konserte hierdie seisoen sluit ook die Rieldans-finale (8 Desember), Krismis met die Sterre (15 Desember), The Rockets (25 Januarie 2019), ADAM, Early B & Irene-Louise van Wyk (16 Februarie), Leah & Karin Kortje (23 Februarie) asook die Taalmonument Koorfees (14 Maart) in.

Die Afrikaanse Taalmonument: Kultuur, natuur én plesier.

*Vir moontlike onderhoude met The Psychedelic Theatre, kontak Lanél van der Kolff op 079 148 1933