Dans van die vlamme Taalmonument 2017 web

Dans van die Vlamme by die Afrikaanse Taalmonument

‘n Nag van vlamme, vuur en natuur is die lig aan die einde van die jaartonnel wanneer die Psychedelic Theatre op Saterdag 30 Desember 2017 by die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl optree. Voeg daarby heerlike somerweer en lekker pieknieks op die sagte gras van die Tuinteater, dan is dit heeltemal te verstane waarom die ‘Dans van die Vlamme’-vertoning, hul elfde by die monument, ‘n hoogtepunt op die kalender is.

Die uurlange vertoning sluit in musiek, vuurdansers wat vlamme eet en uitblaas, en onder meer met brandende hoelahoepels, palmkerse en vuurslange dans. Soos gewoonlik gaan hulle weer die gehoor na hul asem laat snak met nuwe danse en asemrowende toertjies.

Marvin Lee-Beukes, akteur en stigterslid van die Psychedelic Theatre, sê dat hul daarna uitsien om plaaslike inwoners, toeriste én vakansiegangers by die Taalmonument te ontvang vir ‘n onvergeetlike aand van pragtige uitsigte, ‘n ongelooflike  sonsondergang, piekniek én ‘n vuurdansbelewenis. Die Psychedelic Theatre bied vertonings aan wat die stoutse verwagtinge oortref deur dit ver verby alledaagse menslike ervaringe te waag. Sensoriese stimuli word omgeswaai, binnestebuite gedraai en uitgespat oor wat ‘n verleidelike opvoeringsdoek word. Visuele uitstallings wissel van vuur, fisieke teater, mimiek en dans tot interaktiewe en ligvertonings, op die maat van oorspronklike musiek. Kry solank ’n voorsmakie deur na hul vorige optredes by die monument te kyk by www.psychedelictheatre.co.za/?page_id=886

Die hekke open om 17:00 en die vertoning self begin om 20:00 sodra die son groet. Besoekers is welkom om hul eie drankies (geen glas) en piekniekmandjies saam te bring of een vooraf by Volksmond Koffiewinkel (R300 vir twee persone of R400 met ’n mandjie ingesluit) te bestel op 021 863 2800. Dié pas vergrote en verbeterde koffiewinkel sal ook verversings, koffie, wyn en bier op die spyskaart hê. Kaartjies is vooraf te koop by Computicket en by die Taalmonument teen R100 vir volwassenes, R80 vir studente en R50 vir kinders onder 13 jaar. Geen rook en stoele word in die Tuinteater toegelaat nie. Bring ’n kombers of kussing en warm klere saam. Besoekers het ook toegang tot veilige parkering, ‘n kinderspeelparkie asook ’n buitelug gedigte-uitstalling.

Gedurende die somerseisoen bied die Taalmonument boonop ’n reeks Volmaanpieknieks, Sterrrekykpieknieks en ‘n Piekniekkonserte aan wat vertonings deur onder meer Emo Adams, The Rockets, Elvis Blue (en orkes) en Die Heuwels Fantasties sal insluit. Meer details hieroor en ander spesiale geleenthede – soos die ATKV se Rieldanskompetisie, ‘n skerpskryf-werksessie en sportgebeure – is te siene op onder meer www.taalmonument.co.za en www.facebook.com/afrikaansetaalmonument. Vir meer inligting, skakel 021 863 0543/4809.

Die Afrikaanse Taalmonument: Kultuur, natuur én plesier.

{Spreekwoord van die dag: ‘Vroeg uit die bed maak die beursie vet’, menende wie vroeg opstaan sal ryk word}