Gratis geleentheid bewys hoe museums as kulturele kerns vir die toekoms van tradisies dien
Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) vier vanjaar ʼn luisterryke Internasionale Museumdag in die Paarl se ikoniese Toringkerk deur erkenning te gee aan Suid-Afrika se musikale rykdom – van rieldans en klopse tot tradisionele Xhosa-danse en ballet. Siende dat vanjaar se tema vir Museumdag ‘Museums as kulturele kerns: die toekoms van tradisies’ is, sal die geleentheid fokus op die rol van museums om as kulturele kerns te dien vanwaar tradisies bewaar, beleef en omvorm kan word.
Die groepe wat deelneem is Hotshot Panthers (klopse), Boland Vastrappers (rieldans), Ulrich Benting & Myrchelle Williams (Latyns-Amerikaans), Infinite Achievers se Fabia & Aldan (baldans), Diversity (hip-hop), Triple A se Portia Adams, Mia Adendorff & Danike Adams (ballet), Bootscooters (lyndans), The Beats (kwaito) asook Dalubuhle Primêr (Xhosa- en gumboot-danse).
Die feestelike geleentheid geskied van 10:00 tot 12:00 op Saterdag, 18 Mei 2019. Bywoning is gratis, maar besprekings is noodsaaklik omdat daar ruimte vir slegs 250 besoekers is.
Die Toringkerk met sy 57m hoë, kenmerkende toring is in 1907 voltooi en word beskou as een van die grootste en sierlikste kerkgeboue in die land. Dit is in 1982 tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar. Meer inligting by www.toringkerk.co.za. Die Internasionale Museumraad organiseer sedert 1977 jaarliks die Internasionale Museumdag, wat ‘n unieke oomblik vir die internasionale museumgemeenskap verteenwoordig. Op hierdie dag bied die deelnemende museums skeppende gebeure en aktiwiteite, wat verband hou met die tema, aan, betrek hulle die publiek en beklemtoon die belangrikheid van die rol van museums as instellings wat die samelewing en die ontwikkeling daarvan dien. In 2018 het meer as 40 000 museums in ongeveer 158 lande deelgeneem. Sien www.imd.icom.museum vir meer inligting.
Vir besprekings en verdere inligting, skakel 021 863 0543/4809, e-pos bemarking2@taalmuseum.co.za. Die Taalmonument se toegangsfooie is R40 vir volwassenes, R10 vir Suid-Afrikaanse studente en pensioenarisse, R5 vir kinders onder 18 (gratis onder ses jaar) en op spesifieke dae gratis vir Drakenstein-inwoners met geldige biblioteekkaartjies. Oudiogidse is beskikbaar in Afrikaans, Engels, Xhosa, Frans, Duits en Nederlands. Vir meer inligting oor die ATM se jaarpermitte en opwindende geleenthede, besoek www.taalmonument.co.za of volg die Taalmonument op Facebook, Twitter of Instagram.