Aanvanklik was die Kaap (vanaf 1806) net tydelik tydens die Napoleontiese Oorloë onder Britse gesag en geen drastiese stappe is gedoen om Engels as amptelike taal ingestel te kry nie. Die Britse staatslui het nie juis ingemeng op politieke en maatskaplike gebiede nie. Dit het goewerneur John Francis Cradock egter nie verhinder om te begin met die “cautious and progressive introduction” van ten minste een maatreël om die Kaap nouer met Engeland te verbind nie – dit was deur Engels in die onderwys te bevorder. Daar is ‘n kennisgewing in die Cape Town Gazette and African Advertiser geplaas op 20 Februarie 1813 waarin ouers en onderwysers die belangrikheid van onderrig in Engels op die hart gedruk is. Verengelsing van skole sou ook dan só die staatsdiens van amptenare wat Engels magtig was kon voorsien.
Dat Nederlands ’n frustrasie vir Cradock was, is duidelik in die titelakte wat hy onderteken het in 1811. ’n Stuk grond is toegeken aan Jacobus Retief – die oudste broer van die Voortrekkerleier Piet Retief. Die 100 morgen grond was geleë waar die Saldanha staalerts-uitvoerhawe vandag is. Die titelakte is onderteken op 15 Oktober 1811 deur sir John Cradock. Hy skryf duidelik in ink dat “This is the last landgrant I sign in Dutch.”
Kort hierna het Cradock die Hollandse fiskale dokumente in Engels laat vertaal. Die gevolg hiervan was dat die grond toegif-dokumente hierna baie groot was, want dit was in beide Hollands en Engels. Met die koms van die goewerneur Lord Charles Somerset, het dinge egter drasties verander aangesien hy ‘n verengelsingsbeleid afgedwing het op die staatsdiens, onderwys en kerke. – Chantelle de Kock
Bronne:
Various Cape of Good Hope Land Grants and related histories (tokencoins.com)
Die Storie van Afrikaans Deel 2, WAM Carstens & EH Raidt, Protea Boekhuis Pretoria 2019