taalmonument piekniekkonsert coenie hemelbesem YOMA 18 Mrt 2017 oor een stem

Kontemporêre musiekfundi Coenie de Villiers en Afrikaanse se eie hiphop-ster HemelBesem op een verhoog? Maar hulle verskil dan wêrelde van mekaar! Dít mag dalk sommige mense se reaksie wees op die samekoms van dié twee bekende Suid-Afrikaanse kunstenaars vir hulle splinternuwe vertoning – Oor een stem – by ‘n piekniekkonsert by die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl op Saterdag 18 Maart 2017.

Coenie en Hemelbesem het egter al aan verskeie projekte saamgewerk en het groot respek vir mekaar se talent en kuns. “Oor een stem” belowe om die gehoor op ‘n reis te neem deur hulle (nie so verskillende) lewens, liefdes en passies. Coenie het onlangs sy twintigste album, “Emoji”, uitgegee. HemelBesem is bekend vir sy gewilde teaterproduksie “Die Afrikaansvatter” en bring binnekort sy eerste boek, “God praat Afrikaans”, uit. Die rymkletser YOMA, oorspronklik van George, sal by hulle op die verhoog aansluit.

Die vertoning begin om 19:30 in die Tuinteater op die grasperk reg aan die voet van die monument. Die hekke open reeds om 17:00. Besoekers is welkom om hul eie drankies en piekniekmandjie saam te bring of een (teen R250 vir twee persone of R350 met ’n mandjie ingesluit) by Volksmond Koffiewinkel te bestel (tel. 021 863 2800). Volksmond sal oop wees vir koffie, ligte verversings, wyn en bier.

Kaartjies is vooraf te koop by Computicket en by die Taalmonument, asook by die hek, teen R100 vir volwassenes en R50 vir studente en kinders. Stoele word slegs met vooraftoestemming toegelaat en rook slegs in rookareas (nie op die grasperk nie). Bring ’n kombers of kussing en warm klere saam. Veilige parkering is beskikbaar.

Dié konsert vorm deel van die Tuinteater Piekniekkonsertreeks ten bate van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument se Laat ons Lees!-projek vir kinders. Die laaste konsert in die reeks is Die Heuwels Fantasties op 31 Maart 2017. Vir verdere inligting, skakel 021 863 0543/4809 of besoek www.taalmonument.co.za en www.facebook.com/afrikaansetaalmonument.

Save