taalmonument-piekniekkonserte-coenie-hemelbesem-yoma-2016-2017

Die bekende kunstenaars Coenie de Villiers, HemelBesem en YOMA tree op Saterdag 18 Maart 2017 as deel van die Tuinteater Piekniekkonsertreeks by die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl op. Dié piekniekreeks is ten bate van Afrikaanse Taalmuseum en -monument se Laat ons Lees!-projek vir kinders.

Coenie de Villiers is een van Suid-Afrika se gewildste liedjieskrywers, kunstenaars en televisie-aanbieders. Hy het onlangs sy twintigste album, “Emoji”, uitgegee. Die bekroonde Afrikaanse hip-hop-kunstenaar HemelBesem is ook bekend as radio- en televisie-aanbieder. Hy en De Villiers, sy “persoonlike ikoon”, het reeds verskeie kere die verhoog gedeel, waaronder in HemelBesem se teaterproduksie “Die Afrikaansvatter”. Die rymkletser YOMA, oorspronklik van George, was ook in “Die Afrikaansvatter” te sien. Sy spreek haar naam as “jou ma” uit. YOMA het verlede jaar aan De Villiers se  #VatDieRap-projek deelgeneem en saam met Rina Hugo die volksliedjie “Al lê die berge nog so blou” afgestof.

Die vertoning begin om 19:30 in die Tuinteater op die grasperk reg aan die voet van die monument. Die hekke open reeds om 17:00. Besoekers is welkom om hul eie drankies (verkieslik geen glas) en piekniekmandjie saam te bring of een (teen R250 vir twee persone of R350 met ’n mandjie ingesluit) by Volksmond Koffiewinkel te bestel (tel. 021 863 2800). Volksmond sal oop wees vir koffie, ligte verversings, wyn en bier.

Kaartjies is vooraf te koop by Computicket en by die Taalmonument teen R140 vir volwassenes, R130 vir studente en R70 vir kinders onder 13 jaar. Geen rook en stoele word in die Tuinteater toegelaat nie. Bring ’n kombers of kussing en warm klere saam. Veilige parkering is beskikbaar.

Die piekniekkonsertreeks sluit ook vertonings in deur Arno Carstens en Refentse (2 Desember 2016), The Rockets (27 Januarie 2017), ‘n Valentynskonsert (met onder andere André Schwartz op 14 Februarie 2017), Bobby van Jaarsveld (24 Februarie 2017), Amanda Strydom en Jak de Priester (10 Maart 2017) en Die Heuwels Fantasties (31 Maart 2017). Vir verdere inligting, skakel 021 863 0543/4809 of besoek www.taalmonument.co.za en www.facebook.com/afrikaansetaalmonument.

Save