Category Archives: In die media

Woordfees-gesprek oor Afrikaans

Michael Jonas

Ons direkteur, Michael Jonas, en die ondervoorsitter van ons Raad, prof Wannie Carstens, het tydens vanjaar se US Woordfees deelgeneem aan ‘n gesprek oor die ontstaansgeskiedenis van #Afrikaans. Lekker luister!

LitNet-artikel: Gesprek oor taal en identiteit

Ons-kom-van-vêr-Taalmuseum-2017-26-600x400

LitNet-artikel: Wellingtonse gemeenskapsleiers voer oop gesprek oor taal en identiteit

Willem de Vries

Menings

2017-03-23

Op ’n geleentheid die afgelope Saterdag op Wellington was sowel menseregte as moedertaalonderrig op die voorgrond tydens ’n bespreking oor taal en identiteit.

Die gesellige gesprek in Die Bôrdienghuis van die Breytenbach-sentrum was vir die bekendstelling van Ons kom van vêr, waarin ’n hele aantal skrywers die ontwikkeling van  verskillende soorte Afrikaans en ondervindings met Afrikaans teen die agtergrond van die geskiedenis bekyk. Die redakteurs is Wannie Carstens en Michael le Cordeur.

Wannie Carstens en Michael le Cordeur

(Lees Frank Hendricks se gesprek met Le Cordeur hier en Charlyn Dyers se gesprek met Carstens hier oor dié boek, wat tans wyd belangstelling geniet.)

Die oggend het lede van die Ghoemas-benoemde Die Jaloersbokkies, Nedine Blom en Jawaahier Petersen saam met Ashur Petersen musiek gemaak en die Wellingtonse Klopsegroep die Caledonian Roses, onder leiding van Jovanre Cupido, het ook opgetree. Gaireyah Fredericks het gedigte voorgedra: “Kaaps is Hollands” en een oor Adam Small wat by die boek ingesluit is.

Die Jaloersbokkies (Nedine Blom en Jawaahier Petersen) saam met Ashur Petersen

Die Caledonian Roses

Gaireyah Fredericks

Terselfdertyd was dit ’n geleentheid vir mense van die ou en nuwe Wellington om daadwerklik gesprek te voer oor toe én nou, oor hoe om mekaar te help anders maak, om Breyten Breytenbach se ideaal met die sentrum te verwesenlik.

In die gesprek het gemeenskapsleiers en rolmodelle taal en identiteit aan veral eie ervaring gemeet. Dit kom ook in hul bydraes in Ons kom van vêr aan bod.

Die oudburgemeester Herman Bailey, iemand wat ’n lang loopbaan in plaaslike regering gehad het; die Stigting van Bemagtiging deur Afrikaans se Marlene le Roux, wat ook hoof van die Kunstekaap is; Edwena Goff, ’n kerkleier en voormalige Mej Afrika Suid; die onderwyskundige Patrick Mettler; en Mary-Anne Plaatjies-Van Huffel, moderator van die Verenigde Gereformeerde Kerk, het met die Afrikaanse skrywer Braam de Vries gesels.

De Vries het ter inleiding verwys na die groeiende verwysings in byvoorbeeld die Nederlandse pers juis oor die verhouding tussen taal en identiteit. Hy het ’n voorstander van Fries aangehaal wat aandring op ’n sterk en ope Friese identiteit in die opvoeding, onderwys en media, asook optrede wat ’n positiewe beeldvorming tot gevolg sal hê. Wie nalaat om dit te doen, gee die beeldvorming oor aan ander, met gevaarlike gevolge. “Vir identiteit moet jy wel hard werk, maar dan het jy wel deeglik iets om op trots te wees,” het hy uit die berig aangehaal.

Vir die doeleindes van die gesprek het hy gevra dat die paneellede enkele stellings aanvaar: eerstens, dat Willa Boezak gelyk het as hy skryf dat taal ’n belangrike onderdeel is van identiteit en kultuur, ook in terme van spiritualiteit. “Ek vermoed al lank – maar u hoef nie met my saam te stem nie – dat taal een van die sterkste en blywendste merkers is van identiteit. Ons taal is ’n manier van wees, van hoe en wat ons is.

“Tweedens; dat ons aanvaar, en daarvoor staan ek in, dat wie hierdie boek (Ons kom van vêr) nog nie gelees het nie, min kennis het van die verwikkelde, soms tragiese, pynlike, hartseer verhaal van die rol van Afrikaans van ver af tot hede.”

In die afdeling “Lied en Land” in Jan Rabie se roman Ons die afgod bewoord hy die tale-ideaal van Afrikaans se plek tussen al die ander tale van ons land soos volg: “En hoe sing jy jou lied tussen vyf, ses andersoortige stemme?” En die antwoord is: “Ons sal trots ’n klein instrument in ’n groot orkes moet wees.”

“Jan was een van ons grootste taalpatriotte en, daarom, een van die kwaaiste teenstanders van apartheid,” het De Vries gesê. “Maar Jan, en eintlik ons almal, se idealisme en die romantiek in die Mandela-periode, het ons iets laat miskyk: die broederskap tussen ’n sogenaamde groot taal en mag. Die ‘groot orkes’ van Afrika-tale het in die magspel van politici weinig meer as nog ’n paar pionne vir misbruik geword.”

Vir Plaatjies-Van Huffel, dosent in kerkgeskiedenis en kerkreg aan Maties, is taal en identiteit ten nouste verbind. Oor moedertaal, onderrig en kultuur haal sy Richard van der Ross aan: jy kan nie daarvan dink of droom om ’n kind skool toe te stuur sonder moedertaalonderrig nie. “Dis onlosmaaklik verbonde aan jou identiteitsvorming.” Vir haar gaan dit daaroor dat identiteit gevorm word primêr deur die taal wat dit eintlik oordra.

Sy het vertel van die NG Sendingkerk, ’n Nederlandse kerk, wat in 1881 op Wellington gestig is. “In 1925 het die parlement Afrikaans goedgekeur as voertaal – maar in 1924 het dié Kerk alreeds op hulle sinode gesê nou van af wil ons graag Afrikaans hê … Ons wil nie net die Bybel in Afrikaans lees nie, maar ook reekse uit die buiteland wat in Engels gepubliseer is in Afrikaans laat publiseer.”

Michael Jonas, direkteur van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument, aan die woord.

Mettler, voorheen onder andere interne moderator vir wiskunde vir die nasionale departement, onthou in die vorige bedeling was daar in een stadium sewe amptelike kategorieë vir “bruin mense”: onder meer Kaapse Kleurling, Maleier, Griekwa, Chinees, Indiër en ander kleurling. “Intussen het nog name bygekom, soos anderskleuriges, en ek hoor ’n minister het nou die dag gepraat van ‘generic blacks’. So ons is nou ‘generics’ ook! Op ’n kol was ons al ‘sogenaamdes’ ook gewees.

“Daar is egter twee name wat om die een of ander rede ontbreek. Die een het betrekking op taal. Ek het die statistiek oor Afrikaanstaliges nagegaan. Dis 50% bruin mense en minder as 40% is blankes. Dit het die 2011-statistiek gewys. Maar ten spyte van ons Afrikaansheid mag ons nie Afrikaners genoem word nie. En ten spyte van die feit dat ons in Afrika gebore is, is ons nie Africans nie. Nou wat is die boodskap? Wat wil ons probeer sê met die klomp name? Ons is veelnamig, ons is die ‘anders as’-mense. Ek worstel met hierdie hele kwessie van identiteit en bruin identiteit, want dit klink asof dit taamlik sensitief is en ’n mens kry die gevoel dat as jy praat van bruin identiteit dan klink dit asof ons teruggaan na waar ons wás, maar dis darem net een naam teen daardie 15. Dis nog steeds vir my ’n probleem. Ek het gehoop dat met ’94, met die demokratisering, daar twee name sou oorbly: mens en Suid-Afrikaner.”

Die kwessie van name het De Vries laat dink aan die ou wie se buurman se hond hom wakker gehou het. “Toe sê sy vrou: ‘Gaan haal die hond dat hy hier by ons bly, dan blaf hy die buurman wakker!’ Ek wil dus voorstel dat u uself ’n Afrikaner noem as u wil en die probleem iets vir die ander ouens maak.” Adam Small het destyds Die eerste steen? aan “my mense, die Afrikaner” opgedra.

Oor wat op tersiêre vlak gebeur, vestig Mettler sy hoop op “billikheid” in die “mobilisering en geveg om Afrikaans in tersiêre instansies”, en lig dit soos volg toe: “Ons moet ook billikheidshalwe dink aan die regte van Xhosa en Zoeloe. Wat ons vir onsself wil hê, moet ons vir ander mense ook gun.”

Edwena Goff aan die woord.

Taal en identiteit is vir Goff onskeibaar. Tevore was hierdie skoonheidskoningin onder andere Jakes Gerwel se persoonlike assistent by die Universiteit van Wes-Kaapland, later hoof van kommunikasie aan die Skiereilandse Technikon onder Franklin Sonn, en ’n sakevrou. Sy is tans in die bediening in die Bay CFC-gemeente.

“Iets wat nie die aandag kry wat dit móét kry nie, is die gevolg van miskenning, naamlik selfontkenning,” het sy gesê. As voorbeeld het sy verwys na iemand wat haar op ’n lughawe herken en haar as Mej Afrika Suid gegroet het. Haar kinders, tóé nog op laerskool, het na haar gekyk en gevra waaroor dit gaan. “In daardie stadium het ek nog nooit my kinders werklik vertel van die storie van Mej Afrika Suid nie, want dit was nie vir my iets wat ek wou vier nie. En ons móét ons oorwinnings vier.

“Wat bring ons vanoggend bymekaar? Ons taal en die identiteit wat ons vind in ons taal. Vir my, wanneer dit kom by my taal, is ek deel van ’n nierassige volk, nie ’n veelrassige volk nie.”

Volgens Le Roux is “taal etnies georiënteer, want jy word in ’n gemeenskap in gebore”. “As mense nie kaalkop die waarheid gaan praat nie, gaan ons nie vorentoe beweeg nie, want die seer is diep,” het sy gesê. “Die eerste stappie wat ons moet doen, is om die storie te skryf. Ons kan ook nie identiteit en rassisme skei nie, want ons kom uit ’n sekere konteks uit. As ons nie eers ons rassisme in Afrikaans begin aanpak nie, dan gaan ons ook nie verder beweeg nie.”

Marlene le Roux aan die woord.

Sy benadruk dat ongemak deel van die gesprek moet vorm. “Hoekom recycle ons? Ons wil goed voel, ons hou vas aan dinge soos dit was. Daar is egter ander mense ook wat moet blootstelling kry. Ons moet kyk na ons nuwe rolmodelle.” Sy het gesê gesprekke met die kerk is nodig. Hoekom staan hier op Wellington twee kerke vlak langs mekaar? “Ons wil klein bietjies afgee, maar ons wil nie groot dinge aanraak nie. Ons moet begin dink aan ’n gedeelde identiteit.”

Iets wat haar hartseer maak, is armoede en Afrikaans. “Dis diep. En ons het tans ’n generasie van bruin kinders wat voel hulle weet nie eintlik waar hulle inpas nie. Dis die waarheid in ons gemeenskap. Wie se kultuurtaal beoefen ons nog by sekere skole? Dit is goed waaroor ons hardop moet begin praat by beheerliggame en kyk na hoe ons die inskakeling en identiteit kan bevorder. Taal en identiteit kan nie net op ’n hoër vlak fungeer nie. Die debat kan nie net daar wees nie, anders verloor ons ons volgende generasie.”

Herman Bailey aan die woord.

Die belewing van groot en klein apartheid het ook aan bod gekom in Bailey se herinneringe aan sy bykans 18 jaar in plaaslike regering, iets wat hy nogtans as “’n baie lang en interessante pad” beskou.

Toe hy destyds by die munisipaliteit begin werk het, het hy op ’n dag sy geboortesertifikaat by die landdroskantoor gaan kry. Valiant Swart se ma was die klerk en hy het haar goed geken. Sy deel hom toe mee op sy sertifikaat is hy as “gemeng” geklassifiseer. “Ek staan by daai toonbank maar ek dog ek kom iets oor. Toe wou ek vra: Kan ek kies of ek wit of bruin wil wees? Dalk 50/50? Hoewel dit seer maak, het ek gesê skryf maar eerder ‘kleurling’ op die sertifikaat, want ek wil nie ‘gemeng’ deur die lewe gaan nie.”

In 1990 is hul vierde seun gebore. “Ek het gewerk met die aanname die wette gaan seker maar afgeskaf word. Waar daar op sy geboortesertifikaat staan ‘ras’ het ek ingevul: ‘Suid-Afrikaanse burger’. Nou is die spottery by die huis drie van die kinders is kleurling en die vierde is die enigste wat ’n Suid-Afrikaanse burger is!

“Ons het so arm grootgeword daar was nie geld vir studies nie, toe moes ek darem iets gaan soek wat vir my ’n loopbaan sou gee. In daardie tyd maak Pentech oop en gee opleiding in openbare gesondheid en dis toe dat ek in die gesondheidsveld beland het. Dit plaas jou onmiddellik in plaaslike regering en dit was die begin van my plaaslike-regering-loopbaan. Eers as gesondheidsinspekteur op Wellington. Toe ek die eerste oggend inkom, sê die hoof vir my: ‘Baie welkom hierso by ons. Ons drink soggens bietjie tee voordat ons begin werk – wil jy tog nie môreoggend vir jou ’n koppie en ’n piering saambring nie. Jy kan nie ons s’n deel nie.’ Die tweede ding was: daar is openbare toilette in die stadsaal net oorkant die pad en hy sal reël dat die sydeur oop is, want ek kan nie hulle s’n gebruik nie. ‘En hulle het nou nie eintlik vir jou ’n kantoor nie, maar hier is so ’n gang, ons gaan ’n houtblad daar teen die muur sit, dan is dit jou kantoor.’ En die vierde ding is toe hulle ’n voertuig gaan koop. Al die ander gesondheidsinspekteurs het met bakkies en karre gery. Ek het ’n scooter gekry.

“Dit was my bekendstelling aan plaaslike regering gewees. Ek het net besluit dit gaan my nie afsit nie. Ons was die eerste groep bruin gesondheidsinspekteurs wat opgelei is, so ons moes vir ander ’n pad oopmaak.

“In daardie tyd kom die regering toe met bestuurskomitees vir bruin mense. Ek het ’n geweldige worsteling deurgegaan. Ek sit met kennis van plaaslike regering; ek het geen ander plek om my uit te leef nie, want ons kon nog nie stadsraadslede word nie, maar hier is nou ’n geleentheid. Ek besluit toe om my kiesbaar te stel. Al is dit nou ’n apartheidstruktuur. Vir 17 en ’n halwe jaar het ek gesit in daardie apartheidstruktuur. Ons het dit later so onder protes gedoen dat ons later opgeneem is in die raad, onwettig. Ek onthou dat die sekretaris van die raad gesê het hy gaan elke maand notule skryf asof ons ’n vergadering gehad het. Dan stuur hy so ’n notule uit. Dis alles voor 1994.

“By geleentheid het ons ’n  protesnota aan die raad gegee en gesê dat ons die swembad in Pentzstraat wil ophef vir alle bevolkingsgroepe.

“In 1956, die jaar voordat ek skool toe is, loop ek en antie Magrieta winkel toe en soos ons stap, is die bouery aan ’n swembad aan die gang, en ek hoor net sy skree vir haar neef aan die oorkant van die straat: ‘O, jy bou ook ’n swembad vir de Boere.’ Nou sy het van politiek niks geweet nie, maar sy het geweet hier is ’n stuk onregverdigheid.

“Die aand van my voorlegging by die raad toe begin ek met daardie storie. En hier kom ons met die versoek – nie ’n eis nie – dat die swembad oopgestel word. Die volgende dag toe loop die protesbriewe in die wit gemeenskap. Later kondig die burgemeester toe aan dat ná onderhandelinge met die provinsie word R1,4 miljoen beskikbaar gemaak vir ’n swembad vir die bruin gemeenskap in Bloekomlaan. Dis nie wat ons wou hê nie. Ons gaan koukus op die stadsraad se stoep en ons sê ons aanvaar dit onder protes, wetende die wette gaan eindelik almal afgeskaf word. ’94 kom en die swembad word oopgestel. Nou het ons twee swembaddens in die dorp, almal kan gaan waar hulle wil en as jy vandag vir die bruin kinders vra waar gaan swem hulle, sê hulle vandag nog hulle gaan na die Boerebaddens toe.

“In 1993 raak ek betrokke by die afbakeningsraad vir die optrek van die munisipale grense vir die ’94-verkiesing. Toe kom die ’94/’95-verkiesing. In Wellington het ons ’n baie interessante pad geloop: ons gemeenskap het gesê ons is nie gereed vir die NP nie – ons wil nie deel wees daarvan nie; ons was ook nie gereed, na ons oordeel, vir die ANC nie. Daar was niks anders nie. Toe skep ons ’n gemeenskapstruktuur en ons wen die verkiesing en ek word toe burgemeester vir vyf jaar agtereenvolgens. Toe kon jy werk aan al die goed wat jou al vir jare gepla het. Ons het baie suksesse behaal.” Hy was in ’n stadium burgemeester van die Drakenstein-munisipaliteit óók.

Bailey se pa was ’n Karooman en sy ma kom uit die Boland, van die plaas Provence, en hulle het in Afrikaans grootgeword. “Ek het al baie boeregroepe gaan toespreek en nog voordat ek dankie kan sê, dan sê hulle vir my: ‘Pragtige Afrikaans.’ Dan sê ek: ‘Ek ken eintlik niks anders nie, dis hoe my ma my grootgemaak het.’ So asof ek dit nou nie moes bemeester het nie.

“Ek dink wat hierdie boek bereik het, is om ons stories in mooi Afrikaans te skryf, maar tog het dit ’n stuk geskiedenis neergepen wat verlore sou gegaan het. En daarom dink ek dat hierdie die bereiking was van ’n baie, baie mooi ideaal. Ek het nooit aan my stuk as akademiese stuk benader nie, maar dis goed dat dit op daardie vlak gebruik is.”

Die geleentheid is aangebied deur die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM), Wellington Museum en die Breytenbach Sentrum ter gesamentlike viering van Internasionale Moedertaaldag en Menseregtedag. Foto’s verskaf deur die Afrikaanse Taalmuseum en -monument.

Foto’s: ATM

Lees die volledige artikel op LitNet

 

Things To Do In Paarl – Travel Ideas magazine feature

Travel Ideas magazine feature article

Travel Ideas Paarl feature May June issue 2016     Travel Ideas Paarl feature May June issue 2016     Travel Ideas Paarl feature May June issue 2016     Travel Ideas Paarl feature May June issue 2016

 

“40 hoera’s vir die Taalmonument”

Monument vir ‘n taal

Portside_English

‘n Grafika oor die Taalmonument wat ter viering van die monument se 40ste herdenkingsjaar op 10 Oktober 2015 in die Eiendomme-bylaag in Die Burger verskyn het.