Brei-Athon Mandeladag 2018 Taalmuseum klein

Dit is in jul hande om ‘n beter wêreld vir almal wat daarin woon te skep – Madiba

Maak jou breipenne skerp en trek enige wol af van jou oë, want die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) bied op Saterdag, 9 Junie 2018, weer hul jaarlikse brei-athon ter viering van Nelson Mandela-dag aan.

Dié inisiatief, wat in samewerking met die Paarl Museum en Vriende van Paarl Museum asook die Dorkas en Busy Beez vroueklubs gedoen word, skakel in by die dag se doel om individue te inspireer om die wêreld ’n beter plek te maak deur 67 minute van hul tyd te gee om ’n verskil in iemand se lewe te maak. In aanloop tot die dag kan skenkings van nie-bederfbare kos, skryfbehoeftes en klere ook by die museums afgelaai word.

Deelnemers kan behoeftiges se harte warmer laat klop en hulle help om die winter te trotseer deur ʼn kledingstuk, hetsy ʼn serp, trui of kombers, vir hulle te brei. Almal word uitgedaag om te brei; indien jy nie kan brei nie, sal die klubs jou leer voor jy nog die woord “pen” kan sê. Mense kan ook vooraf items brei en op die dag afgee of in die museum voltooi.

Die brei-athon vind van 09:00 tot 14:00 by Paarl Museum op Van der Lingenplein plaas. Deelnemers moet hul eie breipenne saambring en word aangemoedig om wol saam te bring, maar wol (én verversings) sal verskaf word.
Die breiwerk sal op 18 Julie saam met sop en brood aan behoeftige volwassenes en kinders uitgedeel word.

Enige skenkings van wol, nie-bederfbare kos, skryfbehoeftes vir kinders, bruikbare ou klere en komberse is ook welkom. Dit moet teen 11 Julie 2018 afgegee word by die Afrikaanse Taalmuseum in Pastorielaan of Paarl Museum op Van der Lingenplein.

Vir navrae, kontak Verinque Hendriks op 021 872 3441 of vakkundige@taalmuseum.co.za.