Die Taalmonument was die afgelope week die gasheer van ‘n hoogs suksesvolle driedaagse inleidende kursus oor boekherstel en -bindery wat deur spesialis George Wentzel, ‘n gekwalifiseerde meesterboekbinder met meer as 45 jaar se ondervinding, aangebied is. Die 16 deelnemers het drie boeke geskep, terwyl bladgoud- en basiese boekherstelwerk  spesiale aandag gekry het. Ook ingesluit was werksprosedures, ‘n oorsig van die dele van ‘n boek en die samestelling daarvan, asook demonstrasies van en praktiese oefeninge in skutblaaie, boekbindwerk, leerbindwerk, omhulsel afronding en bladrugsteun. “Dit was professioneel, pret en  uitstekend,” het een deelnemer, Elsette Strachan, gesê. “Ek het veral die praktiese sessies geniet en ‘n nuwe vaardigheid verkry,” het ‘n ander deelnemer, Slindokuhle Tshisevhe, bygevoeg. Die Taalmonument bied weer ’n gevorderde boekherstelwerkkursus vanaf 28 tot 30 Oktober 2019 aan wat geskik is vir deelnemers wat reeds die basiese beginsels van boek- en papierherstelwerk verwerf het. Vir besonderhede en besprekings, kontak Jeffrey Pietersen by 021 872 3441 of stuur ʼn e-pos na bemarking2@taalmuseum.co.za.

This slideshow requires JavaScript.