Taalmonument se 45ste ʼn fees van aktiwiteite, musiek en kindervermaak

Die ikoniese Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) se naweeklange 45ste feesvieringe spring op 29 Februarie 2020, skrikkeldag, om 08:00 weg met ʼn ‘45 Minute vir Afrikaans’-pretstap oor 5km waartydens deelnemers stap-stap die pragtige fynbosbedekte berghange en onbekende paadjies kan verken. Die inskrywingsgelde vir hierdie aktiwiteit is alles ten behoewe van die ATM se geletterdheidsprojek, ‘Laat ons Lees!’, en deelnemers sal in stede van ʼn nommer, ʼn oorspronklike Afrikaanse “deelneem-woord” ontvang.

Diegene wat dit binne 45 minute voltooi, sal medaljes ontvang, maar talle geluktrekkings is op die spel vir álmal. Hierdie trekking vind om 9:50 plaas (slegs teenwoordiges sal pryse kan opeis), kort voordat die fees om 10:00 begin – ʼn hele dag van musiek, stories, kindervermaak en ʼn mark op die wonderskone Paarlberg. Daar is boonop ʼn joga, jazz en digkunsklas om te verseker álmal het ʼn prettige manier om een van Afrika se jongste tale te vier. Die veeltalige, multikulturele program met onder andere Jak de Priester, Lungi, V.I.T.O en Jaloersbokkies sal Afrikaans in al haar pragtige gedaantes laat pronk om sprekers en nie-sprekers met ʼn unieke, gesellige gees te omarm.

Kaartjies vir die Pretstap kos R30 vir volwassenes en R10 vir kinders onder 13. Deelnemers kan vooraf by die Taalmonument of Taalmuseum inskryf, of op die dag self vanaf 07:00 tot 07:50 by die hek.
Dagkaartjies kos R80 vir volwassenes en R40 vir kinders onder 13 – dit sluit alle aktiwiteite en vertonings vanaf 10:00 in. Dit is vooraf te koop by die Taalmonument op Paarlberg, by die Taalmuseum in Paarl (021 872 3441/863 0543) en aanlyn via Computicket (www.computicket.co.za). Helaas word geen eie kos of drank toegelaat nie. Vir besonderhede oor die 2020-feesprogram, sien www.taalmuseum.co.za/feesprogram-1975-2020/

Saterdag se feesdag volg op Vrydagaand, die 28ste, se rock-troniese musiek van Akkedis Band – Afrikaanse rock met ʼn stewige skeut Afrika-, reggae en blues-invloede – asook Die Heuwels Fantasties se futuristiese elektronika ineengevleg met subtiele kitaarelemente en intelligente lirieke. Drank- en kosstalletjies beskikbaar; onthou warm klere en komberse.

Die Taalmonument bestuur onder meer ʼn geletterdheidsprojek, het ʼn skool ‘aangeneem’ ten bate van Nelson Mandela en borg gratis vervoer na die monument. Deur bloot die feesgeleenthede by te woon, ondersteun gaste die uitreikprogramme, so by voorbaat ‘Baie Dankie!’ Gaste word ook aangemoedig om ʼn nuwe of tweedehandse kinderboek aan die Besoekersentrum te skenk ter ondersteuning van die ‘Laat ons Lees!’-projek.

Vir meer oor al die ander opwindende geleenthede, buiten die 2020-vieringe, by die Taalmonument, skakel 021 863 0543/4809, besoek www.taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook. Jaarpermitte is beskikbaar teen R120 vir individue of R220 per gesin, wat toegang tot alle Volmaanpieknieks insluit.