Geliefde musikante se talentklanke gaan beïndruk

Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) speel gasheer vir ʼn rits klassieke musieksterre wat gaste met ongelooflike weergawes van klassieke en moderne klassieke musiek op Saterdag, 5 Desember 2020, gaan vermaak terwyl die son agter die ikoniese monument wegsmelt.

‘Klassiek Piekniek’ is die perfekte kans om op die lowergroen grasperke van die monument skoene uit te skop, ʼn piekniek met vriende en familie te hou en deur die harmonieuse klanke meegevoer te word. Die musiek sal deur die Kaapstadse Operakoorlede Christine Bam, Ernestine Stuurman, Marvin Kernelle, Siphesihle Mdena en Luvo Rasemeni asook Paarliet Jayson Kleinschmidt van ‘Maak My Famous’-faam uitgevoer word.

Bam is ‘n mezzosopraan wat plaaslik en internasionaal opgetree het as deel van produksies soos Porgy and Bess, La Bohème, Grace Notes, African Angels en Così fan tutte. Stuurman is ‘n liriese sopraan wat die rolle vertolk het van Lauretta in Gianni Schicchi, Maria in West Side Story en Strawberry Woman in Porgy and Bess. Sy tree plaaslik en internasionaal op. Mdena is ‘n tenoor wat ‘n aantal rolle in verskillende operas vertolk het, waaronder Così fan tutte, L’elisir d’amore, plaaslik en internasionaal. Rasemeni is ‘n veelsydige kunstenaar wat basbariton sing en verskillende musiekgenres uitvoer. In 2007 het hy by die Isango Ensemble Theatre Company aangesluit en na Londen, Australië, Asië, Europa en Amerika getoer. Kernelle, die koormeester van die Kaapstadse Operakoor, was die koormeester en assistent-dirigent vir plaaslike en internasionale produksies van onder meer Carmen, Mandela Trilogy, Le Nozze di Figaro, Così fan tutte, Maria Stuarda, La Traviata en The Flying Dutchman.

Kleinschmidt, gebore en getoë in die Paarl, het vanjaar deelgeneem aan die ‘Maak My Famous’ TV-kompetisie waar hy uit 8 000 inskrywings tot die top-10 deurgedring het. Hierdie sanger se musikale genre wissel van ligte opera-arias, klassieke en musiekblyspele tot kontemporêre musiek in Engels, Afrikaans, Frans en Italiaans.

Gaste is welkom om hul eie piekniekmandjies mee te bring of een vooraf by die Oppi Berg Mobile Café op 060 382 9938 (R250 per paartjie, R450 per gesin van vier) te bestel. Die kiosk sal ook oop wees vir ander eet- en drinkgoed. Trek warm aan en bring ‘n flits asook ‘n masker saam. Sien www.taalmuseum.co.za/covid-19/ vir die spesifieke protokolle.

Toegang is slegs R80 per volwassene en R40 vir kinders, en die vertoning begin om 19:00. Kaartjies is beskikbaar by Computicket en, indien daar nog oor is, by die hek op die dag self vanaf 17:00. Jaarpermitte (tans teen 20%-afslag) is beskikbaar teen R120 vir individue of R220 per gesin, wat toegang tot alle Volmaanpieknieks insluit.

Vir meer inligting oor al die ander opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument (en hul 45ste verjaarsdagvieringe in 2020), skakel 021 872 3441/863 0543, besoek www.taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook.