Die Taalmuseum is geleë in die hartjie van die Paarl en beeld die diverse ontstaansverhaal van een van Afrika se jongste tale, Afrikaans (van, betreffende, behorende tot Afrika volgens die Woordeboek van die Afrikaanse Taal), uit. Die museum is ingerig in die pragtige, historiese huis van Gideon Malherbe, een van die stigterslede van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) in 1875. Die museum se uitstallings lig besoekers in oor die geskiedenis en diversiteit van Afrikaans – kom besigtig die GRA se drukpers waarop die eerste Afrikaanse koerant ter wêreld gedruk is en toets jou kennis van idiome! Sien ook voorbeelde van die oudste Afrikaans wat in Arabiese skrif geskryf is en beleef die avontuurlike reis van Afrikaanse musiek – van rieldans tot rymklets. Begeleide toere is met voorafbespreking by die Taalmuseum beskikbaar. Die museum en monument bied gereeld uitsonderlike geleenthede aan, dus klik hier vir die jongste inligting op ons sosiale mediaplatform.
Ons beloof ook ‘n onvergeetlike uitstappie vir leerders van alle ouderdomme. Opvoeders kan uit leerplangebaseerde onderwerpe kies en werkskaarte word verskaf. Spesiale programme word op herdenkingsdae soos Mandela-, Taal-, Jeug- en Museumdag aangebied; praat met ons Opvoedkundige Beampte oor spesifieke behoeftes. ‘n Leeskamer is ook in die huis ingerig waar navorsers ou dokumente kan raadpleeg. Hierdie dokumente word gehuisves in n brandbestande argief met temperatuur- en humiditeitbeheer. Vir eenvoudige navorsingsnavrae, sal ons per e-pos reageer op geskrewe vrae. Reël met die Kurator vooraf indien jy toegang tot die versameling Africanaboeke benodig.
As jy die Taalmuseum in Paarl en die Taalmonument op Paarlberg op dieselfde dag besoek, kry jy afslag op die toegangsgeld by die tweede besoek, dus hou asseblief jou betaalstrokies.
WAAR IS ONS?
Adres: Pastorielaan 11, Paarl
GPS-koördinate: 33° 44′ 03.30″ S 18° 57′ 48.46″ O
Aanwysings en kaart
OPENINGSTYE van die TAALMUSEUM
Oop: Ma tot Vr 08:30–16:45
Gesluit: Naweke, openbare vakansiedae, Kersfees tot Nuwejaar
TOEGANGSFOOIE van 1 APRIL 2022 tot 31 MAART 2025
Kaart of kontant aanvaar. Verjaar jy? Bring jou Suid-Afrikaanse ID vir gratis toegang!
VOLWASSENES
- R20 per persoon
- Vir Drakenstein-inwoners met geldige biblioteekkaartjies: R10
TOERGROEPE
- Gewone toegangsfooi per persoon, maar toeroperateurtarief en STO onderhandelbaar. Doen hiervoor vroegtydig skriftelik aansoek by admin@taalmuseum.co.za. Gratis vir geregistreerde toergidse en busbestuurders
SA STUDENTE en SA PENSIOENARISSE
- R10 (met geldige bewys)
KINDERS
- R10 (gratis onder ses jaar)
SKOOLGROEPE
- R10 per leerder; 2 opvoeders en busbestuurder se toegang is gratis per groep (bespreek asb vooraf vir opvoedkundige programme)
PERMITTE
- JAARPERMIT: Slegs R120 vir individue/R220 vir ‘n gesin van vier – sluit onbeperkte toegang tot die museum, monument, koffiewinkel, wandelpaaie en Volmaanpieknieks in
- FIETSRYPERMIT: Gewone toegangsfooi/jaarpermit teen R220 per persoon – sluit onbeperkte toegang tot bergafbane, museum, monument, koffiewinkel, wandelpaaie en Volmaanpieknieks in
- STAPPERMIT: Gewone toegangsfooi plus R20-deposito vir sleutel
KONTAK ONS
Tel: +27 (0)21 872 3441 of (0)21 863 0543
E-pos navraag
Volg ons op Twitter: Taalmonument
Sluit aan by ons op Facebook: Afrikaanse Taalmonument
Volg ons op Instagram: Taalmonument
BEPALINGS en VOORWAARDES GELD
Alle besoekers besoek die perseel op eie risiko. Die ATM sal nie verantwoordelik gehou word vir enige verlies, skade of besering wat opgedoen word nie. Die ATM neem geen verantwoordelikheid indien enige programme, funksies of geleenthede gekanselleer, ingekort of aangepas moet word weens omstandighede buite die instelling se beheer nie, soos byvoorbeeld slegte weer of gebrekkige elektrisiteits- en waterverskaffing.
Bogenoemde fooie is slegs geldig vir gewone toegang/soos aangedui en nie vir spesiale geleenthede of funksies nie. Versoeke vir afslag moet skriftelik aan die Direkteur gerig word.
Die ATM se Raad mag die ure waartydens, en die voorwaardes en bepalings waaronder die publiek die verklaarde instelling of ʼn gedeelte daarvan mag besoek, asook die toegangsfooie, bepaal en aanpas. Die ATM se Bestuur behou hom die reg voor om binne redelike perke en sonder enige vooraf kennisgewing die toegangstye en besoekruimtes tydelik aan te pas of op te skort; in sulke gevalle sal besoekers, permithouers en ander belanghebbendes geen reg op enige skadevergoeding hê nie.
Geen wapens, troeteldiere of smouse word op die perseel toegelaat nie. Reg van toegang word voorbehou.
[Inkomste uit toegangsfooie en verhurings word gebruik om die tekort in die subsidie van die Departement van Sport, Kuns en Kultuur aan te vul. Dit word aangewend vir instandhouding en om opvoedkundige programme en erfenisprojekte aan te bied.]
ALGEMEEN
- Gratis begeleide toere word aangebied deur ‘n museumgids, wanneer beskikbaar. Versoeke vir gespesialiseerde toere of om toegang tot argivale materiaal te kry, moet aan die Kurator gerig word.
- Opvoedkundige toere moet vooraf bespreek word en ’n besprekingsvorm moet ingevul word. Skoolgroepe word weens die toestand van die museum se vloere beperk tot 30 leerders per besoek. Groter groepe word slegs in die Vroeë Geskrewe Afrikaans-vertrek toegelaat.
- Om te voldoen aan brand- en veiligheidsregulasies mag daar nie meer as 30 besoekers tegelykertyd per verdieping toegelaat word nie.
- Vooraf toestemming moet by die Kurator verkry word vir kommersiële fotografie/verfilming.
BESOEKERS MAG NIE
- In die museum hardloop of spring nie.
- Op die meubels sit, leun of daaraan raak nie.
- Aan die artefakte op die grondvloer raak nie.
- Op die klavier speel nie.
- In die museum eet, drink of rook (ingesluit e-sigarette ens) nie.
- Verby die sperpaaltjies beweeg nie.
- Teen die trapreling afgly nie.