14 kore sal koormusiek onder groter gehoor bevorder

Danksy die hoë noot waarop verlede jaar se eerste koorfees geëindig het, vind die tweede Taalmonument Koorfees op Donderdag, 14 Maart 2019, plaas waartydens kore hul beste note gaan voorsit – en dit boonop met die beroemde Kaapse Operakoor Maestro, Marvin Kernelle, as seremoniemeester.

“Een van die doelwitte van hierdie fees is om koormusiek te bevorder,” sê Christine Bam, mede-organiseerder en self ʼn mezzosopraan en stemafrigter. “Daar is geen kompetisie of beoordeling gekoppel aan hierdie geleentheid nie. Dit is ʼn lekker saamsing-fees waar kore kan kom sing, die dag geniet en kan netwerk met ander kore.”

Die dag bied ook ʼn geleentheid aan kore om deur middel van kaartjieverkope fondse in te samel, terwyl dit vir leerders, hul gesinne en die wyer publiek ʼn kans gee om hul musiekliefde met mekaar te deel. Die 14 kore van Voce Armoniche, Laerskool Aristea, Laerskool Bastion, Hoërskool Cradock, Hoërskool De Kuilen, William Lloyd Primêr, Hoërskool Brackenfell, Laer Meisieskool Paarl, Hoër Meisieskool Paarl, Paarl Primêre Seunskool, Worcester Voorbereiding, Hoërskool Namakwaland, Laer Meisieskool La Rochelle en Hoër Meisieskool La Rochelle gaan individueel en gesamentlik gaste met ʼn wye verskeidenheid musiek vermaak. Die massakoorwerk waarmee die unieke, heerlike aand sal afsluit, is ‘Blou’ (lirieke en musiek deur André Swiegers, verwerking deur Alna Smit).

“Ons is ook baie opgewonde om vir Kernelle as seremoniemeester te verwelkom,” sê Bam. Kernelle is nie net ʼn operasanger en sedert 2014 Kaapstad Operakoor se koormeester nie, maar ook ʼn bekende gesig op koorgeleenthede. Hy was onlangs ʼn beoordelaar van die gewilde Varsity Sing-reeks asook ʼn beoordelaar vir die Wêreldkoorspele wat verlede jaar in Suid-Afrika gehou is.

Die Taalmonument Koorfees word in die Amfiteater op Paarlberg aangebied, en spys- en drankstalletjies sal beskikbaar wees. Hekke open om 17:00 met die agtergrondklanke van die Imbhewu Marimba-groep voordat die koorsang om 19:00 begin. Kaartjies (R120 vir volwassenes, R60 vir kinders onder 12) kan by Computicket of die Amfiteater se hek gekoop word. Besoekers word versoek om warm kleding te bring. Helaas word geen vure, honde, eie kos of drank toegelaat nie. Toegang word beheer en voldoende parkering is beskikbaar.

Vir verdere inligting oor die koorfees, skakel 083 621 8483 of stuur ʼn e-pos aan christinebam.3@gmail.com.Vir meer inligting oor al die ander opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument, skakel 021 863 0543/4809, besoek www.taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook.