Taalmonument sal skitter met sterre onder sterrehemel
’n Hemelse lenteaand met ’n trio van klankkunstenaars gaan binnekort die Taalmonument se intieme Tuinteater in ’n eenmalige moet-hoor-ervaring onder die sterreprag omtower. Die gewilde en bekroonde Refentse, Elandré én Andriëtte se piekniekkonsert op Saterdag, 30 NOVEMBER 2024, is boonop die hoogtepunt van ’n dag om die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) se 50ste bestaansjaar in te lei met die bekendstelling van ’n fantastiese feesprogram vir 2025.
Volgens die ATM-direkteur, Michael Jonas, is die doel van volgende jaar se vieringe om Afrikaans as ’n nasionale bate te bevorder deur onder meer die gedeelde, inklusiewe ontstaansgeskiedenis van die taal te belig en te eer. “Ons wil dit doen deur die monument as inspirasie voor te hou waar ons fokus op kultuur, natuur en plesier juis beliggaam wat ons in hierdie verband bereik,” sê hy. “Dié uiteenlopende kunstenaars se ongelooflike musiek is ’n bewys van wat moontlik is. En in die volgende maande gaan ons net voortbou daarop.” Hy moedig ook almal aan om die instelling se webtuiste en sosiale media te volg of op hul nuusbrief in te teken om op hoogte te bly van die jaarprogram.
Refentse Morake, oorspronklik van Gauteng, Elandré Schwartz, oorspronklik vanuit die Oos-Kaap, asook die Wes-Kaapse Andriëtte Norman het die afgelope dekade hul uitsonderlike roem danksy harde werk en hope talent verdien, met byvoorbeeld elk se bekendste liedjie wat tesame sowat 16 miljoen kyke op YouTube het. Volg hulle op hul sosiale en klankplatforms vir voorsmake wat by die piekniekkonsert te wagte kan wees.
Gaste is welkom om hul eie pieknieks en drankies (geen glas) te bring of vooraf ’n piekniekmandjie by die Suikerkan via 082 216 2510 of info@diesuikerkan.co.za te bestel – hierdie bistro sal ook verversings tydens die geleentheid verkoop. Onthou warm klere en ʼn flits. Helaas word geen honde, vure of stoele toegelaat nie. Volop veilige parkering is gratis beskikbaar. Vir die kinders is daar ook speelparke en buitelugspeletjies.
Die konsert vind by die Taalmonument op Paarlberg vanaf 18:00 tot 21:00 plaas (hekke open om 17:00) en kos slegs R280 per persoon, wat ʼn gratis besoek aan die monument en die pragtige, inheemse tuine insluit. Om die belewenis so uniek moontlik te hou, is beperkte kaartjies beskikbaar, dus bespreek so gou moontlik aanlyn by quicket.co.za. Indien enige kaartjies oorbly, sal dit by die hek vanaf 17:00 te koop wees. Vir navrae, kontak Stefanie Rasztabiga via 021 872 3441 of kommunikasie@taalmuseum.co.za.
- Vir meer inligting oor al die opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument en Taalmuseum, skakel 021 872 3441/863 0543, besoek taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook. Die webtuiste bied boonop virtuele toere van die monument en museum, inligting in ses tale oor die simboliek van die Taalmonument asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms. Daar is voorts heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte. Jaarpermitte kos slegs R120 vir individue of R220 per gesin, wat onbeperkte toegang tot die ATM, bistro en Volmaanpieknieks insluit. Die bistro bied daagliks heerlike kos en pragtige vergesigte; kontak hulle via diesuikerkan.co.za of 082 216 2510.