amfikonsert by tuinteater Taalmonument klein

Dit is nou die Tuinteater wat gaan weergalm met die klanke van talent
Taalmonument se ‘Amfi-Konsert’ lok Dr Victor & The Rasta Rebels, Paxton & Sean D Band en Jak de Priester

Die Paarlberg en ikoniese Taalmonument is op 6 April 2018 Suid-Afrika se klank-hoofkantoor met onder andere Dr Victor & The Rasta Rebels, Paxton & Sean D Band asook Jak de Priester wat die aand aan die brand gaan speel tydens die Boland se eerste ‘Amfi-Konsert’. Dié super suksesvolle kunstenaars sal vooraf gegaan word deur opkomende sterre soos No Swett Band, Soulsound Live Band en Elwira Standili terwyl seremoniemeester Uncle Cal sal verseker dat dié unieke aand lag-lag seepglad verloop.

Weens logistieke redes, verskuif die konsert nou van die Amfiteater na die Tuinteater ʼn paar honderd meter verderop, aan die voete van die monument. Dr Victor & The Rasta Rebels is reeds dekades lank ’n Afropop en reggae sensasie en het onder meer by Paul Simon en Gloria Estefan se konserte gespeel terwyl Paxton verlede jaar se ‘Idols’-kompetisie gewen het, haar eerste album binnekort vrystel en gekies is om voor die Sweedse koningin op te tree. Jak de Priester is ʼn sanger, skrywer en TV-persoonlikheid met agt albums en ʼn digbundel in sy koker. Seremoniemeester Uncle Cal is ʼn DJ-legende wat enige gehoor met sy aweregse humor en uitspattige gedrag na groter glimlagte sal lei.

Vooraf speel No Swett, ʼn dinamiese vierman-stemgroep, Soulsound Live wat ʼn wye reeks genres op vyf instrumente vertolk asook Elwira Standili wie se heuninggoue stem al op onder meer ‘Idols’ te hore was. Gaste kan boonop uitsien na ʼn heerlike atmosfeer by die intieme Tuinteater met ʼn pragtige uitsig oor die Bolandse valleie en berg. Verskeie bekostigbare kosstalletjies asook ʼn biertent sal beskikbaar wees om in enige spys-en-drank behoeftes te voorsien. Die voorafprogram begin Vrydagaand om 18:30 en die hoofkunstenaars sal vanaf 20:00 die verhoog bestyg.

Kaartjies is vooraf beskikbaar by Computicket en die Taalmonument teen R100 vir volwassenes en R70 vir kinders onder 13 jaar. Dit sal ook op die dag self by die monument beskikbaar wees, en dan wel teen R120 vir volwassenes en R80 vir kinders onder 13 jaar. Bring ’n kombers of kussing en warm klere saam. Veilige parkering is beskikbaar en toegang word beheer. Helaas word geen honde, vure, eie kos of drank toegelaat nie. 33° 45′ 58.64″ S 18° 56′ 35.36″ O

Vir verdere inligting, skakel 021 863 0543/4809 of besoek www.taalmonument.co.za en www.facebook.com/afrikaansetaalmonument.