Afrikadag1Nuut

“Die Afrika in Afrikaans” is die tema van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) se viering van Afrikadag op Donderdag  25 Mei 2017. Dié viering sluit ‘n musiekoptrede, begeleide toere en ‘n spesiale opvoedkundige program in.

Die Lukhanyo marimba-groep van Mbekweni tree van 12:00 tot 13:00 by die Taalmonument op Paarlberg op. Begeleide toere word vir besoekers aangebied van 08:00 tot 16:00. ‘n Groep van 80 graad sewe-leerders van Mary Help of Christians Primêre Skool van die Paarl is genooi om ‘n spesiale opvoedkundige program by te woon as deel van die ATM se Borg-‘n-bus-projek.

Volgens  Michael Jonas, die Direkteur van die ATM, wil die ATM met hierdie viering mense bewus maak van Afrikaans as ‘n Afrikataal, die taal se Afrika-oorsprong (saam met sy Europese en Oosterse oorspronge), wedersyse invloede tussen Afrikaans en ander Afrikatale, sowel as die diversiteit van die Afrikaanssprekende gemeenskap.  Jonas sê dit is belangrik om te besef dat taalkontak tussen die Khoi-Khoin en Nederlandse seevaarders (sedert 1595) as die eerste periode in die ontstaansgeskiedenis van  Afrikaans beskou word.

“Die Khoi het ‘n belangrike rol gespeel in die ontwikkeling van Afrikaans, waaronder vroeë vorme van Afrikaans soos Khoi-Grensafrikaans. Bekende Khoi-leenwoorde sluit in ‘kanna’, ‘boegoe’, ‘dagga’ en ‘kierie’. Afrikaans bevat ook talle leenwoorde uit ander Afrika-tale, soos isiXhosa en isiZulu, waaronder ‘impala’, ‘mamba’, ‘pasella’ en ‘indaba’,” sê Jonas.

Die Taalmonument-toegangsfooie is as volg op Afrikadag: R30 vir volwassenes, R10 vir Suid-Afrikaanse studente en  pensioenarisse, R5 vir kinders (gratis onder ses jaar) en gratis vir Drakenstein-inwoners met biblioteekkaartjies. Vir navrae, kontak Nkita Pietersen by 021 872 3441 of student@taalmuseum.co.za. Vir meer inligting oor die ATM, besoek www.taalmuseum.co.za of volg die Taalmonument op Facebook, Twitter of Instagram.

Save

Save

Save