Afrikadag Taalmuseum 2018

Mede-Afrikane kan Taalmonument gratis besoek op Afrikadag
Viering sal fokus op invloed van Afrikatale op Afrikaans

Om opnuut klem te lê op die Afrika in Afrikaans, gaan die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) se viering van Afrikadag op Vrydag, 25 Mei 2018, fokus op die invloed van Afrikatale op Afrikaans en Afrikaans se invloed op Afrikatale. Boonop is toegang gratis op hierdie dag vir Afrikane (Suid-Afrikaners uitgesluit) wat met hul geldige paspoorte van enige ander Afrikaland opdaag.

Volgens Michael Jonas, die Direkteur van die ATM, wil die monument met hierdie viering mense bewus maak van Afrikaans as ʼn Afrikataal, die taal se Afrika-oorsprong (saam met sy Europese en Oosterse oorspronge), wedersydse invloede tussen Afrikaans en ander Afrikatale, sowel as die diversiteit van die Afrikaanssprekende gemeenskap. “Ons wil ook as Suid-Afrikaners uitreik na ons mede-Afrikane en daarom dat ons dit goed gedink het om hulle gratis toegang tot die Taalmonument aan te bied. Ons beskou die monument nie net as ʼn baken van hoop vir Afrikaans nie, maar vir alle Afrikatale.”

Die Taalmonument-toegangsfooie is R30 vir volwassenes, R10 vir Suid-Afrikaanse studente en pensioenarisse, R5 vir kinders (gratis onder ses jaar) en gratis vir Drakenstein-inwoners met biblioteekkaartjies. Oudiogidse is beskikbaar in Afrikaans, Engels, Xhosa, Frans, Duits en Nederlands. Vir meer inligting oor die ATM, besoek www.taalmuseum.co.za of volg die Taalmonument op Facebook, Twitter of Instagram.