Foto: Janine Brown en Johannes Blaauw in Marydale in 2017
Kort op die hakke van ‘n uiters suksesvolle taaltoer om Noord-Kaapse stories op te teken, is die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) in die Paarl weer oppad na die provinsie om nog juwele op te grawe en vir die huidige en nageslagte uit te stal. Me Janine Brown, Opvoedkundige Beampte, gaan vanaf 29 Oktober tot 4 November 2017 Phokwane, Magareng, Dikgatlong, Kgatelopele, Siyancuma en Sol Plaatje munisipaliteite besoek as deel van die mondelinge-oorlewering-projek. Dit behels om oorvertelde, maar onopgetekende verhale asook stories oor erfenis in digitale beeld, klank en woord te omskep.
“Ons brei ons museumversameling uit om meer verteenwoordigend van die breër Afrikaanssprekende gemeenskap se taalerfenis te wees,” sê sy. “Die opteken van mondelinge oorlewering speel ’n belangrike rol in die bewaring van ’n taal en sy geskiedenis, veral om voorheen ongedokumenteerde geskiedenisse in te sluit. Dit behels om aan gemeenskappe en mense wat nie voorheen ’n stem gehad het nie, die geleentheid te bied om hul stories te vertel.”
Inwoners in die omgewings van Hartswater, Pampierstad, Ganspan, Jan Kempsdorp, Warrenton, Windsorton, Barkley Wes, Delportshoop, Koopmansfontein, Daniëlskuil, Campbell, Schmidtsdrif en Kimberley word vriendelik genooi om aan die projek deel te neem, veral omdat dit ook vir hul nageslag van belang is. “Ons het reeds taalverskynsels uit die Kamiesbergstreek in ons museumuitstalling en opvoedkundige programme ingesluit,” sê Brown, wat byvoeg dat hulle beplan om die projek ook na die ander provinsies te neem.
Die ATM het vantevore stories in die Emthanjeni, Renosterberg, Kamiesberg, Siyathemba, Gamagara, Thembelihle en Siyancuma asook Orania versamel. Brown gaan hieroor verslag doen by ‘n konferensie oor Noord-Kaapse Afrikaanse streektaal en –letterkunde vanaf 2 tot 3 November in Kimberley.
“Die temas wat ons telkens in die Noord-Kaap raakloop, sluit in water, waaronder stories oor droogte en die waterslang, taalidentiteit, volkswoordkuns soos byname, speletjies en gesegdes asook vervoer as lewensaar,” verduidelik Brown. “Laasgenoemde het veral te doen met hoe mense en dorpe, én spookdorpe, se wel en weë deur die spoorweë en paaie beïnvloed is.”
Vir meer inligting, ook oor die ander dorpe wat besoek gaan word, kontak Brown by 021 872 3441 of 076 017 6026 of opvoeding@taalmuseum.co.za. Vir meer inligting oor die ATM, sien www.taalmuseum.co.za of volg die Taalmonument op Facebook, Twitter of Instagram.
Die Afrikaanse Taalmonument: kultuur, natuur en plesier. Én omgee vir die gemeenskap van hier.
{Spreekwoord van die dag: ‘’n Appeltjie met iemand te skil hê’, menende ’n probleem/moeilikheid wat met iemand bespreek moet word.}