Webtuiste bied virtuele toer en spog met ongelooflike inligting en foto’s

Goeiedag | Molweni | Good day

Na aanleiding van die jongste verwikkelinge rakende die koronavirus-pandemie, bevestig die Afrikaanse Taalmuseum in die Paarl en die Afrikaanse Taalmonument op Paarlberg hiermee dat beide instellings tot verdere kennisgewing vir besoekers gesluit is. In reaksie op regeringsvoorskrifte, het ons die volgende maatreëls aanvaar:

– Die monument en museum is gesluit vir besoekers en alle openbare programme tydens hierdie tydperk is afgelas/uitgestel.
– Ons personeel sal sover moontlik vanaf hul huise werk, maar moet per e-pos en sosiale netwerke beskikbaar wees om navrae en dringende kwessies te hanteer. Waar hulle wel vir onderhouds- en ander noodsaaklike take benodig word, sal hulle in skofte werk om die kontak tussen medewerkers te beperk. Al ons geriewe het effektiewe sepe/ontsmettingsmiddele en beskermende kleding sal aan werknemers verskaf word.
– Personeel is op hoogte gebring van die virus en pandemie (sien www.gov.za/NovelCoronavirus) en versoek om geen fopnuus via sosiale media te versprei nie. Indien enige van hulle siek voel – wat ook al die oorsaak – sal hulle onmiddellik mediese behandeling kry.

Ons webtuiste – www.taalmonument.co.za – het ʼn virtuele toer van beide die monument en museum, uitgebreide inligting in ses tale asook tientalle skakels na interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die monument se herkoms en toekoms.

Die veiligheid en gesondheid van ons personeel asook die gemeenskap bly ons prioriteite; ons versoek dat Suid-Afrikaners hulle vergewis van die mediese feite rakende die virus, insluitende welke kategorieë mense die grootse risiko dra. Ons bedank ook almal vir hul volgehoue steun in hierdie unieke omstandighede; die Afrikaanse Taalmuseum en -monument sal alle stappe aanpas indien die owerhede enige nuwe versoeke rig of verpligtinge oplê.

Ons is positief dat dié instelling, soos die res van die land en planeet, sterker uit die stryd teen hierdie pandemie sal tree – met groter medemenslikheid en beter begrip. Intussen het ons net een woord vir almal: Vasbyt!

Vir die jongste inligting, sien asseblief www.taalmonument.co.za en ons Facebookblad, of kontak ons op admin@taalmuseum.co.za.

Baie dankie | Enkosi kakhulu | Thank you very much