lugfoto Taalmonument

Die Afrikaanse Taalmonument is een van vele taalmonumente in die wêreld en ook in Suid-Afrika. Die oudste een in Suid-Afrika waarvan ons weet, staan op Burgersdorp in die Oos-Kaap, en is in 1893 opgerig ter erkenning van die Hollandse taal. Die Vrystaatse dorpe Kroonstad en Welkom het albei in 1959 monumente vir die Afrikaanse taal opgerig, maar heelwat ander dorpe in Suid-Afrika het hul eie klein monumente opgerig in die 1970s tydens die bou van die Taalmonument in die Paarl. Ons is bewus van meer as 20 sulke monumente oraloor in Suid-Afrika.

  • Afrikaans het nie in die Paarl ontstaan nie, maar ‘n belangrike deel van Afrikaans se formele ontstaansgeskiedenis het in die Paarl afgespeel.
  • In die mid-1800s het die Nederlandse taalkundige Arnoldus Pannevis besef dat die taal reeds ‘n taal uit eie reg is en voorgestel dat dit Afrikaans, eerder as Kaaps-Hollands, genoem word. Hy en ander Paarliete wou graag die Bybel in Afrikaans vertaal. Daarom het hulle besluit om ‘n vereniging te stig wat hom kon beywer vir die erkenning van Afrikaans as ‘n skryftaal, en só is die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) op 14 Augustus 1875 in die Paarl gestig in die huis wat vandag die Afrikaanse Taalmuseum huisves.
  • Die Taalmonument, wat meer beeldhouwerk as argitektoniese werk is, is juis in die Paarl opgerig omdat die Paarliete graag die bydrae van die Eerste Taalbeweging (die GRA) wou herdenk. Die monument is boonop op 10 Oktober 1975 onthul, ‘n simboliese 100 jaar ná die stigting van die GRA en 50 jaar vandat Afrikaans ‘n amptelike landstaal in 1925 geword het. Dit verteenwoordig die diversiteit, groei en ontstaan van Afrikaans.
  • Die eerste saadjie vir Afrikaans is gesaai in die 1500s toe daar taalkontak tussen die Khoikhoi en Nederlandse seevaarders gemaak is. Dit is dus die eerste periode in die ontstaansgeskiedenis van Afrikaans.
  • Die oorsprong van Afrikaans lê oor drie kontinente versprei, naamlik Europa, die Ooste en natuurlik Afrika – en dit is wat deur hierdie monument uitgebeeld word. Dit simboliseer die verskillende voedtale wat Afrikaans gevorm het, gee uiting aan die inspirasie van twee Afrikaanse skrywers en bring Afrikaans in konteks met Afrika.

Die monument, as inklusiewe instelling, beywer hom daarvoor dat almal Afrikaans respekteer en waardeer. In hierdie gees werk die instelling hard daaraan om Afrikaans veral onder die jeug en nie-moedertaalsprekers aan te moedig en te ondersteun. Die instelling poog om verhoudinge tussen Afrikaans en ander inheemse tale te verbeter deur onder meer die wedersydse invloed op mekaar te erken en uit te beeld. Ons droom is dat hierdie monument sal dien as ‘n baken van hoop vir die ontwikkeling en erkenning van alle Afrikatale.

1 – Dit is ons erns

In 1942 het die inwoners van die Paarl tydens ‘n openbare vergadering besluit om ‘n Afrikaanse taalmonument op te rig. In 1943 is ‘n komitee saamgestel met die doel om geld in te samel vir die bou van die monument.

In 1964 is 12 argitekte uitgenooi om deel te neem aan ‘n kompetisie om ‘n monument te ontwerp. Die opdrag aan die argitekte was dat die monument die kulturele, akademiese en staatkundige groei van Afrikaans moes uitbeeld. ‘n Ander belangrike aspek was dat die monument van ver af sigbaar moes wees.

Die ontwerp van die argitek Jan van Wijk is uiteindelik gekies. Sy ontwerp is gebaseer op die geskrifte van twee prominente Afrikaanse skrywers en geïnspireer deur die natuurlike omgewing.

Die geskiedenis van die bewoording in die plaveisel, “Dit is ons erns”, dateer van 1905 toe politikus JH Hofmeyr ʼn toespraak oor taalregte gehou het met die titel “Is’t u Ernst?” (“Is dit u erns?”). Die vraag is gou deur taalaktiviste omskep in ‘n positiewe antwoord, en toe daar na ʼn tema vir die 1975 Taalfeesjaar gesoek is, is daar op “Dit is ons erns” besluit. Van Wijk het voorgestel dat die woorde in die plaveisel aangebring word om mense se aandag te vestig op die betekenis van die monument.

Meer as 40 000 mense het die monument se inwyding op 10 Oktober 1975 bygewoon. Die dag het onder meer ‘n toespraak deur die destydse premier, BJ Vorster, ‘n voorlesing van Adam Small se Afrikaanse gedig genaamd ‘Nkosi sikelel’ iAfrika’ (‘God seën Afrika’) en ‘n koorfees wat ‘n wye verskeidenheid Afrikaanssprekendes verteenwoordig het, ingesluit.

2 – Inspirasie vir die ontwerp

Een van die argitek se belangrikste ontwerpbeginsels was dat die monument by die natuurlike terrein moes inskakel en dit moes aanvul. Van Wijk het vertel dat hy met ʼn ou brandpad opgeloop het om die voorgestelde terrein te verken en ook vanaf ander sigpunte in die omgewing na die terrein gekyk het omdat die monument van ver af sigbaar moes wees. Hy het besluit dat die lyne en ander elemente van die monument die natuurlike lyne van die omgewing moes naboots, en dat die boumateriaal by die rotse op die berg moes inpas. Daarom is die monument gebou met ’n mengsel van Paarl-graniet, wit sand en sement.

Die volgende stap was om ʼn gepaste beeld te soek wat Afrikaans kon voorstel. Dit is gevind in die beeld wat die bekende skrywer CJ Langenhoven gebruik het om Afrikaans as skryftaal te beskryf, naamlik ʼn “snelstygende boog”. So is die idee van die hoofsuil gebore, met heel bo ʼn oop punt wat groei voorstel.

Om hierdie definisie visueel uit te druk, het die argitek die woorde van die skrywer NP van Wyk Louw gebruik. Laasgenoemde het Afrikaans beskryf as ‘n “glansende werktuig” en “tweesnydende swaard” wat Wes-Europa en Afrika soos ʼn brug verbind.

3 – Simboliek van die drie suile links   

Die suile aan u linkerkant verteenwoordig die invloed van die Wes-Europese tale en kulture op die ontwikkeling van Afrikaans, waaronder Nederlands, Duits, Frans en Portugees. Nie een van die suile beeld ’n spesifieke taal uit nie. Die suile loop van hoog na laag om die verminderende Europese invloed op Afrikaans uit te beeld. Die hoogste van die drie is ongeveer 13,5m hoog.

In 1652 het die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie, oftewel die VOC, ‘n verversingspos aan die Kaap gestig om vars produkte aan verbygaande skepe op hul reise na en van die Ooste te voorsien.

Die VOC het ‘n baie streng taalbeleid gehad, met Hollands as voorkeurtaal, en die amptenare het hoofsaaklik Hoog-Hollands gepraat. Die matrose en soldate was van verskillende Europese lande afkomstig, onder meer Nederland, Duitsland, Frankryk en die Skandinawiese lande, maar is almal verplig om Hollands te praat. Hulle het derhalwe ‘n vereenvoudigde vorm daarvan, bekend as 17de-eeuse Hollands, gepraat.

4 – Simboliek van muur op trap

Die muur op die trapaantrede van die monument stel die invloed van Indonesiese tale (hoofsaaklik Maleis) op die ontwikkeling van Afrikaans voor. Aangesien Maleis van die Ooste is, is die muur só tussen die kurwes van Wes-Europa en Afrika geplaas dat dit apart staan. Tog vorm dit ʼn eenheid met die twee kragte van Wes-Europa en Afrika wat saamsmelt om die brug te vorm wat dan simbolies die basis, die wortels, van Afrikaans uitbeeld.

  • Op ‘n tydstip was daar meer slawe as Europeërs aan die Kaap. Die slawe is vanaf 1654 vanuit die Ooste en Afrika na die Kaapkolonie gebring, meestal vanuit Angola, Guinee, Madagaskar en die Indonesiese kusgebiede.
  • Die slawe het verskillende moedertale gehad, maar was verplig om 17de-eeuse Hollands aan te leer. Die meeste kon ook ‘n vorm van Portugees, bekend as Maleis-Portugees, praat, wat ‘n interessante invloed op die ontwikkeling van Afrikaans gehad het.
  • Vandag word daar talle Maleise woorde in die Afrikaanse woordeskat aangetref, byvoorbeeld ‘baie’, ‘baadjie’, ‘piesang’, ‘blatjang’ en ‘sosatie’.

Afrikaans in Arabiese skrif is een van die vroegste vorme van geskrewe Afrikaans en is sedert die vroeë 1800’s in die Kaap gebruik. Moslem-slawekinders het godsdiensonderrig in hul spreektaal, later bekend as Kaapse Afrikaans, ontvang, maar moes die Arabiese alfabet gebruik vir skryfwerk. Spesiale simbole is daarom deur Abu Bakr Effendi en ander Moslem geestelikes ontwikkel om sekere Afrikaanse klanke foneties in Arabiese skrif voor te stel. Tussen 1870 en 1950 is minstens 78 boeke in Arabies-geskrewe Afrikaans gedruk.

5 – Simboliek van die drie koepels regs

Hierdie podium en drie koepels beeld die invloed van die Khoikhoi en ander Afrika-tale, soos isiXhosa, isiZoeloe en Sesotho, op die ontwikkeling van Afrikaans uit en verteenwoordig die suidpunt van Afrika. Anders as die suile van die Europese tale, neem hierdie koepels in grootte toe omdat Afrika se invloed op Afrikaans toeneem. Hierdie strukture is só geplaas dat hulle ʼn kurwe vorm wat by die hooflyn (naamlik Afrikaans) aansluit, en so die kring voltooi.

  • Die Nederlanders was veral van die Khoikhoi afhanklik vir die voorsiening van vee en sodoende het ruilhandel onder die groepe ontstaan. Danksy hierdie ruilhandel het kommunikasie vanaf die 1500s tussen die groepe plaasgevind en was daar in 1655 tot 221 woorde in ‘n woordelys opgeteken wat die seevaarders gebruik het.
  • Die Nederlanders het ‘n streng taalbeleid gehad wat bepaal het dat hulle nie inheemse tale moes aanleer nie; daarom het die Khoikhoi dus 17de-eeuse Hollands begin aanleer. Hulle het baie vinnig ‘n vereenvoudigde vorm daarvan gepraat en natuurlik het woorde van hul eie moedertaal ook deel daarvan geword.
  • Vandag spog die Afrikaanse woordeskat met talle woorde wat van die Khoikhoi geërf is, veral plekname soos Karoo (droog), dierename soos koedoe, plantname soos boegoe en algemene woorde soos dagga, eina, abba en kierie.
  • Die koepels verteenwoordig ook die invloed van die Xhosa-, Zulu- en Sotho-groepe op Afrikaans. Voorbeelde van leenwoorde uit hierdie tale wat in Afrikaans gebruik word, is aikôna, indaba en tokkelossie.

6 – Simboliek van brug bokant trappe   

Sien u hoe die kurwes bymekaar kom om ‘n brug te vorm? NP van Wyk Louw, die een skrywer deur wie die argitek geïnspireer is, het geskryf dat Afrikaans met sy een voet in Afrika staan en met die ander voet in Europa, menende dat die taal sy oorsprong in beide kontinente het. Hy beskryf Afrikaans dan verder as ‘n brug tussen die tale van Europa en Afrika.

Waar die twee kurwes van Wes-Europa en Afrika bymekaar kom, word ’n brug gevorm, wat die versmelting van die twee kontinente se tale versinnebeeld.

7 – Hoofsuil

Die hoogste suil (ongeveer 57m hoog) simboliseer die groei van Afrikaans en is oop aan die bokant. Die ander skrywer deur wie die argitek geïnspireer is, CJ Langenhoven, het geskryf dat Afrikaans soos ‘n “snelstygende boog” groei.

  • Die hoofsuil van die monument stel die “snelstygende boog” van Afrikaans en sy versnellende groei voor. Die suil staan in ’n poel fonteinwater wat verder die gedagte versterk van die taal as ’n lewende, groeiende entiteit wat lewensonderhoud nodig het vir sy voortbestaan. Die skerp lyne van die suil verbeeld die “tweesnydende swaard” van die skrywer NP van Van Wyk Louw. Die suil eindig oop en stomp om aan te dui dat die taal steeds groei. Die ligspel in die monument, as gevolg van die waterpoel en die openinge in die hoofsuil, versinnebeeld Afrikaans as “glansende werktuig”.
  • Terwyl Afrikaans woorde van ander tale geleen het, het baie ander tale, veral Afrikatale, weer Afrikaanse woorde geleen. Die bekendste is woorde wat diere beskryf, soos ‘meerkat’ en ‘springbok’, sowel as ‘veld’, ‘trek’, ‘spoor’, ‘koppie’, ‘kommando’, ‘apartheid’ en ‘rooibos’. Asook die woord ‘Afrikaans’!

8 – Fontein

Die argitek se visie was dat die hoofsuil bo oop moet wees om aan te dui dat dit steeds groei. Die opwaartsstygende wand van die hoofsuil het ’n reeks openinge waardeur die wisselende lig en sonstrale allerhande ligpatrone na binne optower. Hierdie lig asook die water van die fontein simboliseer die groeikragtigheid van die taal.

9 – Suid-Afrika-suil

Langs die hoofsuil in die poel staan daar nog ’n suil (ongeveer 26m hoog) wat die Republiek van Suid-Afrika, die geboorteplek van Afrikaans, uitbeeld.

Die suil is oop na Afrika om aan te dui dat interaksie tussen Afrikaans, Suid-Afrika en Afrika voortdurend plaasvind, aangesien dit tot ‘n volwaardige en onafhanklike inheemse taal ontwikkel het in Afrika.

10 – Podium en bouproses

Die bouwerk aan die monument het twee jaar geduur vanaf 1972 tot 1974 en het R700 000 beloop. Die monument moes inskakel by die omgewing en is dus gebou van ‘n spesiale betonmengsel bestaande uit sement, wit sand en Paarl-graniet.

  • Die mengsel is in ’n voorafvervaardigde bekistingstruktuur gegiet wat bestaan het uit ‘n metaalraamwerk wat met skeepslaaghout uitgevoer is.
  • Aangesien die argitek die kleur van die rotse op die terrein wou naboots, het hy aangedring op die gebruik van die buitenste grysbruin lae van die graniet sáám met die binneste blouerige gedeelte. Die tekstuur van die rotse op die terrein is nageboots deur die gladde sement­oppervlak met spesiale lugdrukbore te verwyder om die granietklippies in die mengsel bloot te lê.
  • Die hoofsuil kan ’n windsterkte van tot 160km per uur weerstaan.

Die Afrikaanse Taalmonument moet as ’n beeldhouwerk eerder as ’n argitektoniese werk gesien word. Daar is wel elemente van die Brutalistiese styl in die struktuur teenwoordig en die gebruik van rou beton is wêreldwyd ’n algemene kenmerk van monumente uit die laaste helfte van die 20ste eeu.

11 – Die graf van Jan van Wijk

Die argitek van die monument, Jan van Wijk, is in 2005 oorlede. Van al die projekte wat Jan in sy lewe aangepak het, het sy magnum opus, die Taalmonument, die naaste aan sy hart gelê. Dit is dan ook gepas dat sy as hier in ’n granietrots ingemessel is – in dieselfde rots waarby hy en sy vrou op ’n dag in 1964 vertoef het toe hulle, ter voorbereiding vir sy ontwerp, die berg verken het.

Gedurende sy loopbaan was Jan by meer as 870 projekte betrokke. Hy het verskeie toekennings ontvang, waaronder die Erepenning vir Argitektuur van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

12 – Groen Galery

Die Groen Galery, ‘n buitelug galery, is ingerig ter ondersteuning van Jan se werk, wat ‘n sensitiewe ingesteldheid tot die natuurlike Suid-Afrikaanse landskap uitbeeld. Die Afrikaanse Taalmonument is veel meer as net ‘n monument; dit is nie net ‘n ervaring van kultuur nie, maar ook van natuur én plesier. Tydelike uitstallings word hier aangebied in uitstalkaste van herwonne hout en glas.

13 – Paarlrots

Paarlberg is sowat 500 miljoen jaar oud en is bekend vir die drie reusagtige granietrotse genaamd Paarl-, Bretagne-, en Gordon-rots. Die inheemse Khoikhoi het die berg Skilpadberg genoem.

Ongeveer in die middel van die terrein waarop die monument geleë is, is ʼn klipkoppie wat uit groepe granietrotse bestaan. Hulle is almal klein weergawes van die Paarl-rots en die indruk word geskep dat die natuur dieselfde lyne en kurwes oor en oor op die berg herhaal.

taalmonumente in suid-afrika