Wat is die verband tussen Afrikaans en Vlaams?

By die Afrikaanse Taalmuseum en -monument ontvang ons gereeld navrae oor hoekom Afrikaans en Vlaams so eenders klink – dus het ons navorser, dr Annemarie van Zyl, ‘n bietjie kers opgesteek by Vlaamse taalkundiges:

België is verdeel in twee dele. In Vlaandere, die noordelike deel (aangrensend aan Nederland) woon die Vlaminge, wat Nederlands praat, en in Wallonië, die suidelike gedeelte (aangrensend aan Frankryk), woon die Franssprekende Wale. ‘n Klein gedeelte van die bevolking praat ook Duits.

Vlaams is nie die naam van die taal wat in Vlaandere gepraat word nie, dit is ‘n woord wat in die volksmond ontstaan het vir die Nederlands wat die Vlaminge praat. Hoewel dit dus wêreldwyd ‘n algemene opvatting is dat daar so ‘n taal soos Vlaams bestaan, is dit nie die geval nie; die Vlaminge praat Nederlands. Dit is wel so dat Nederlanders dikwels na die taal van die Vlaminge verwys as Vlaams, en dat Vlaminge self ook soms hul taal so noem. Die Nederlands wat in Vlaandere gepraat word, kan vergelyk word met die Engels wat in Suid-Afrika gepraat word. Die verskille lê eintlik hoofsaaklik in die uitspraak en by woorde en uitdrukkings wat uniek aan die spesifieke konteks is.

Gedurende die Middeleeue was die suidelike Nederlande die leier op kulturele gebied in die Neder­lands­sprekende deel van die Lae Lande. Vanaf die laat 1500’s, tydens die Tagtigjarige Oorlog, het die Suide se mag gekwyn en groot getalle akademici en kunstenaars het gemigreer, veral na Holland, wat op daardie stadium dié toonaangewende provinsie in Nederland was.

Die Franssprekende burgery in Vlaandere en Brussel het geweier om die taal van die Vlaminge te gebruik. Hulle het dit beskou as die taal van die laer klasse, net soos die geval was in Suid-Afrika waar die deftige burgers nie die “kombuistaal” Afrikaans wou praat nie. ‘n Beweging bekend as Die Vlaamse Beweging het in die tweede helfte van die 19e eeu tot stand gekom om te veg vir die Nederlandse taal. Waar daar in Suid-Afrika geveg is vir die behoud van Nederlands teenoor Engels, is daar in Vlaandere kapsie gemaak teen die oorheersing van Frans.

Die Nederlands wat in Holland gepraat is, is sterk beïnvloed deur die Vlaminge wat vanaf die 1500’s daarheen gevlug het. Dit is dieselfde taal wat deur van Riebeeck na die Kaap gebring is. Sedertdien het die taal in die twee gebiede (Vlaandere en Nederland) verskillende ontwikkelings­paadjies geloop. Die Vlaminge praat vandag steeds ’n ouderwetse tipe Standaard­nederlands, en klink daardeur nader aan Afrikaans. Talle woorde en uitdrukkings wat in België gebruik word, is ook nader aan Afrikaans as die Nederlanders se weergawe.

Die BAIE kort antwoord is dus dat die Nederlands wat in die 17e eeuse Holland gepraat is (en dus die basistaal van Afrikaans is), sterk beïnvloed is deur Vlaams.

Bronne

Malherbe, FEJ: Moderne Vlaamse kortverhale, Tafelberg, 1985, p 1, E-pos Prof Van Keymeulen 31/1/2014

Van Keymeulen, J: ‘Vlaams’, wat is dat toch voor een taal? Ongepubliseerde artikel, 2014

Nederlandse Ambassade in Stockholm: Holland or Netherlands?, Ambassade-webwerf, 2012

Prof Jacques van Keymeulen, Universiteit van Gent

Me Anne Verbist, SASNEV