En as deel van Afrikaans 100 vier die Afrikaanse Taalmuseum en -monument in 2025  saam hierdie vrugbare taalboom wat  eeue gelede op die kontinent ontkiem en tot wasdom gegroei het. ’n Monumentale droom in-der-daad!
Met haar diep, diverse wortels en talryke, gevarieerde takke verwelkom sy mos almal onder haar skaduwee in die Afrikason. Van kontaktaal, kombuistaal, madrassa-taal en trektaal tot kommunikasiemiddel wat op alle vlakke van die samelewing geleef word.
Ons beeldhouwerk op die berg en huismuseum in die Paarl is nie bloot pragtige, lewende ruimtes nie, maar verbeeld die miljoene stemme wat die komvandaan-taal oor honderde jare geskep het en steeds vervorm en verryk.
Van die voorouers se abba, nxa!, tramakassie, babelas, spookasem, ja-nee en ietermagog – die oortjies van die seekoei, want more is nog ‘n dag. Tot die hip-hopper, komediant, sepiester en skrywer, die digter, joernalis en woordeboekmaker. Die ma in die voorhuis, die storieverteller by die braai, die immigrant wat die taal woord-vir-woordeskat bemeester.
Mag ons almal gehoor word en mag Afrikaans in al haar gedaantes die  volgende eeu floreer.
Volg Afrikaans100 op sosiale media of besoek afrikaans100.org en taalmuseum.co.za, want soos ons almal weet… fluit-fluit, die storie is nog laaaaank nie uit.
  • ‘n Hoogtepunt vir die voorstanders van Afrikaans was die erkenning van Afrikaans as ’n amptelike taal van Suid-Afrika. Op 8 Mei 1925 is in ‘n gesamentlike sitting van die Unie-Volksraad en die Senaat, die wet op “de Officiële Talen van de Unie” eenparig aangeneem. By die Afrikaanse Taalmuseum en -monument gee ons erkenning aan Afrikaans se taalwortels wat na 1595 terug strek, en dus honderde jare aan die vorm was en is. Ook lê ons klem op almal wat bygedra het tot die skepping van Afrikaans asook die verskillende variëteite van die taal. Afrikaans 100 skop op 8 Mei 2024 af met ’n jaar se plesierigheid tot 8 Mei 2025 wanneer die taal feestelik in die Paarl by die Taalmonument gevier gaan word. Waarvoor wag jy? Word deel van Afrikaans 100 se projekte en feesvieringe. Almal is genooi!
  • Michael Jonas, ATM-direkteur, is die ondervoorsitter van die oorsigkomitee van Afrikaans 100.
  • Lees die volledige verklaring van Afrikaans 100 hier.
    Afrikaans is ons almal s’n
    Brasse, bra’s en broeders. Sisi en suster. Staan nader, staan nader. Maak ’n plan of dala wat jy moet.