Betowerende volmaanpiekniek wink by Taalmonument

Met die nuwe jaar wat weer op ons is, is dit die perfekte tyd om asem te skep en die volmaan van nader te bekyk op ʼn heerlike somersaand op die beeldskone Paarlberg. Daarom nooi die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) se vriendelike personeel almal hartlik uit om hierdie natuurlike verskynsel op Saterdag, 15 Januarie 2022, met hulle te vier.

Ter ondersteuning van die Sentrum vir Astronomiese Erfenis se projek om inheemse name vir volmane in Suider-Afrika te bevorder, word hierdie piekniek gewy aan die Bidsprinkaan, ‘n godsdienstige wese van die San-mense wat oorspronklik regoor Suid-Afrika gewoon het. In die San-tradisie was die bidsprinkaan ‘n tipe bedrieër, /Kaggen, die een wat mislei. Met verloop van tyd het hy ook die Nguni-wese geword wat as uThikoloshi bekend staan.

Die pieknieks is baie gewild onder plaaslike inwoners én toeriste, wat veral die sonsondergang en pragtige naguitsig van die vallei geniet. Gaste kan enige tyd tussen 17:00 en 22:00 kom piekniek hou en die monument, ʼn simboolgelaaide beeldhouwerk sonder weerga, besigtig. Besoekers word ook aangemoedig om die omgewing en tydelike uitstallings te verken; daar is buitelug-speletjies en speelparke vir die kinders.

Besoekers is welkom om hul eie piekniekmandjies (geen glas) te bring of een vooraf by die ATM Koffiehuis via mz@colegson.co.za te bestel – hierdie nuwe koffiewinkel sal ook spys en drank op die aand verskaf. Onthou ook warm klere en ʼn flits, asook ʼn masker. Sien taalmuseum.co.za/covid-19/ vir die spesifieke protokolle.

Toegang is R40 per volwassene, R10 vir SA studente en pensioenarisse, R5 vir kinders en gratis vir kinders onder 6 jaar asook jaarpermithouers. Kaartjies is beskikbaar by Computicket of die hek, en geen besprekings is nodig nie. Die piekniekreeks word aangebied ten bate van ‘Laat ons Lees!’, die Taalmuseum se geletterdheidsprojek vir kinders, en besoekers word versoek om ʼn nuwe of tweedehandse kinderboek te skenk. Die volgende Volmaanpieknieks is op 18 Februarie en 18 Maart. Meer oor die Sentrum vir Astronomiese Erfenis by https://cfah.org.za.

Vir meer inligting oor al die ander opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument, skakel 021 872 3441/863 0543, besoek taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook. Die webtuiste bied boonop virtuele toere van die monument en museum, inligting in ses tale oor die simboliek van die Taalmonument asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms. Daar is voorts heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte. DIE TAALMONUMENT EN TAALMUSEUM IS OOP VIR BESOEKERS. Jaarpermitte kos R120 vir individue of R220 per gesin, wat toegang tot alle Volmaanpieknieks insluit.