AMPTELIKE VERKLARING

6 Februarie 2017

Steve Hofmeyr welkom in Amfiteater

Die Amfiteater is ʼn openbare ruimte in diens van die Suid-Afrikaanse landskap. Steve Hofmeyr is dus welkom in dié teater, onderhewig aan bepalings en voorwaardes, insluitend om die waardes van die Suid-Afrikaanse grondwet te respekteer. Dit geld ook ander kunstenaars. Só sê Michael Jonas, Direkteur van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) in die Paarl, in reaksie op ʼn berig in Rapport op 15 Januarie 2017 en daaropvolgende klagtes van die publiek.

Volgens Jonas verhuur die ATM die Amfiteater op ʼn ad hoc-grondslag aan buite-organisasies. Die ATM onderhandel tans met die organiseerder van die beplande Hofmeyr-konsert op 24 Maart.

Jonas sê die ATM bedien die inklusiewe spektrum van Afrikaanssprekendes, met ‘n fokus op die viering van diversiteit: “Ons bied dwarsdeur die jaar ʼn groot verskeidenheid van aktiwiteite by die Taalmonument én die Amfiteater aan. Meer as 4 000 mense het so byvoorbeeld in Desember verlede jaar die elfde jaarlikse ATKV-Rieldanskompetisie in die Amfiteater bygewoon. Op 25 Februarie vind die Cape Town Summer Fest met onder andere Emo Adams, Lloyd Cele, Majozi, Karlien van Jaarsveld en The Rockets in die Amfiteater plaas.

“Ons is oop vir voorstelle en sal enige konsert oorweeg. Dit is nie die ATM se rol om sensuur toe te pas nie. Ons is a-polities en ten gunste van sosiale samehorigheid. Ons bepalings en voorwaardes sluit daarom in dat die Amfiteater nie misbruik sal word om uitsprake te maak wat in stryd is met die doelwitte van nasiebou en erkenning van almal se grondwetlike regte nie. Dit sluit in geen volkslied behalwe die amptelike volkslied en geen vlae buiten die huidige landsvlag nie. Indien enige een van die voorwaardes op enige stadium nie nagekom word nie, sal ʼn konsert nie voortgaan nie.”

Jonas sê die ATM het oor die afgelope paar jaar as ʼn platform vir openbare deelname ʼn al hoe meer relevante rolspeler geword: “Ons wil juis ʼn atmosfeer van openlikheid en deursigtigheid skep. Ons beskou ons museum en monument se mure as poreus, as ʼn spasie waar die gemeenskap welkom is om te debatteer oor identiteit, verlies aan identiteit en die skep van ʼn nuwe gemeenskaplike identiteit. Elkeen mag sy/haar eie identiteit hê. Waar ons in die verlede oor ons verskille geskei is, het ons nou die geleentheid om ons verskille te gebruik om eenheid in die land te bewerkstellig.”

Vir navrae oor die die Steve Hofmeyr-konsert, kontak Scott Entertainment by 087 820 0383 of info@scottentertainment.co.za.