35 jaar “‘n voorreg en nie ‘n reg nie”

“Dit is ‘n voorreg en nie ‘n reg nie . . .” Aan die woord is Megan Ruiters, ontvangsdame van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument, wat vandag die mylpaal van 35 diens by dié instelling, wat self vanjaar 40 jaar oud is, vier.

Megan is deesdae verantwoordelik vir die ontvangs van museumbesoekers en bied as gekwalifiseerde terreingids begeleide toere deur die museum aan. Sy is ook die museum se gesondheidsverteenwoordiger en het haarself boonop onlangs as lekeprediker bekwaam. Maar sy het ‘n lang pad gestap van die eerste dag toe sy op 7 April 1980 by die museum ingestap het met die versoek “. . . Gee my net ‘n kans, ek sal julle wys waartoe ek in staat is.”  Die destydse hoofde van die museum het Megan se potensiaal raakgesien en sy het gevorder vanaf skoonmaker tot gids en ontvangsdame.

“Ek het onder begin en dit was nie vir my ‘n skande nie. Elke dag die afgelope 35 jaar was ‘n dag van iets anders, baie kollegas het in my lewe ingestap en weer uitgestap, maar ons het almal iets besonders vir mekaar beteken. Ek wil nie eens praat van besoekers van oral oor die hele wêreld en skoolgroepe en onderwysers nie, ek het omtrent ‘n groot familie ontmoet,” het Megan vertel tydens ‘n verrassingspartytjie wat vir haar by die Taalmonument gehou is.

Sy het vertel hoe sy die hoofde van die museum deur die jare as haar “ouers” beskou het weens hulle goeie werksverhoudings. Megan se kollegas het haar positiewe gesindheid en die “goeie preke wat sy afsteek” uitgelig as dit wat hulle van haar waardeer.

“Glimlagte maak almal se dag besonders. Geld is nie alles nie – om gelukkig by die werk te wees is net soveel werd. En aan jongmense wil ek sê dat as jy êrens wil kom, moet jy bereid wees om enigiets te doen en ervaring op te doen!”

Megan het vertel hoe trots sy op haar kinders is – tot haar groot vreugde is twee van hulle by die Motormuseum op Franschhoek werksaam, onderskeidelik as gids en as ontvangsbestuurder.

Haar seun, Chezlin, het op haar Facebook-profiel geskryf: “Geluk mami was harde jare en eks bly jy ht uit gehou tot nou ons ht so te se groot geraak in dai museum nou sit ek ook in een alles uit mami se gebede hoop j geniet jo laaste jaar.”

Om ʼn afspraak met Megan te maak vir ‘n begeleide toer van die Taalmuseum, skakel 021 872 3441 of stuur ʼn e-pos na gids@taalmuseum.co.za.